Rehoboth in rou

Drie boesemvriende verdrink
Die pa van een van die jong mans wat op die boot was wat die naweek gesink en die lewe van drie vriende geëis het, sê hy sal die families se pyn nooit vergeet nie.
Boet Matthews
“Pa, ons is op die boot en die boot het gesink.”

Dit was die oproep wat Rehoboth se burgemeester, mnr. Toes Junius, Saterdagaand van sy seun, Reeve, ontvang het wat saam met ’n groep vriende op ’n boot op die Oanobdam buite die dorp was. Ses sou uiteindelik veilig die land haal toe die boot sink, insluitend Reeve, met drie wat verdrink het. In ’n onderhoud met Republikein het Junius gesê sy eerste reaksie was dat Reeve se meisie en dogtertjie iets oorgekom het.

“Hy (Reeve) het stilgebly en toe begin huil. Ek het gedog dis daai groot plesierboot by die dam en die volgende woorde gaan wees sy meisie en hul kindjie het verdrink,” vertel Junius. Reeve het vir sy pa gesê drie seuns het verdrink.

“Die eerste opkom is jy is bly vir jou kind wat ‘survive’ het, maar dan dink jy aan daai drie kinders wat dit nie gemaak het nie.“

Junius het sy seun gemaan om kalm te raak en gesê hy kom soontoe en sal dit daar kom uitsorteer.

“Ek het gedink daar is nog hoop dat hulle (die drie) miskien op ’n ander plek uitgeswem het en nie werklik verdrink het nie. Ek het nie geweet wie die drie ander kinders was nie.”

Volgens Junius was daar nege jong mense op die boot en was hulle by die dam vir ’n verjaardagpartytjie. Die “drie jong mannetjies” was deel van die groep.

Hy vertel die groep het deur die dag “trips” uit op die dam gemaak, een groepie uit en dan weer die ander.

“Toe was my seun en hulle selfde groep so 16:00 op die boot uit en toe kom hulle terug en toe gaan ’n ander groep uit.”

Teen skemer, sê Junius, het die groep gevoel hulle wil ’n “sundowner trip” vat.

“Die laaitie sê toe ry hy tot op halfpad en toe wil hy omdraai, maar die ouens voel hy moet aangaan tot die punt waar die rivier inkom en die dam stop.”

Volgens Junius het hulle toe verder gery as wat hulle moet en het die brandstof opgeraak.

“Hulle het brandstof op die boot gehad. Terwyl hulle besig was om die brandstof in te gooi, het die groep gesien hoe die water by die boot se “voorkant” begin instroom.

“Daar het die moeilikheid gekom. Toe sê almal onder mekaar ‘manne, ons moet swem, kom ons spring’.”

Junius sê iemand het glo gevra of almal wel kan swem, maar niemand het geantwoord nie. Volgens hom het sy seun “wat ken van swem”, dit net-net tot op die wal gemaak.

“Toe hy uitklim, was daar vier ander mannetjies voor hom, hulle kort toe nog daai drie. Maar dis toe donker en hulle roep mekaar se name. Vier het nie geantwoord nie. Terwyl dié op die wal praat, hoor hulle ’n geklap in die water, toe is daar een outjie nog in die water. ’n Ou met ’n roeiboot het daai laaste mannetjie uitgebring.”

Junius sê hy weet nie of hy ooit die tonele wat langs die dam afgespeel het, sal kan vergeet nie.

“Ek was dankbaar my kind het gelewe en hy het dit gemaak, maar aan die anderkant – ek kan dit nie beskryf nie. Dis twee dae later en ek is nog nie oor hierdie ding nie, ek dink nie ek sal gou daaroor kom nie.”

Volgens hom het hy baie foto’s van George Izaaks (25), Rasjiv Dentlinger (27) en Bjorn van Wyk (27) gesien en op elkeen was die “drie’tjies” altyd saam. Intussen het die Basterkaptein, mnr. Jacky Britz, die dood van die dorp se drie musketiers as ’n tragedie beskryf.

“Uit ’n ouer se oogpunt is dit absoluut ’n tragedie vir die gemeenskap op Rehoboth, dat drie jong manne in die fleur van hulle lewe gesterf het. ’n Absolute tragedie, die hele dorp is in rou daaroor. Dis jong manne wat baie vir die gemeenskap beteken het,” het Britz gesê.

Hy het beklemtoon die gemeenskap se harte gaan uit na die ouers “in hierdie groot verlies”.

“Ons kan hulle net toebid dat die Here hul sal ondersteun en hulle se trane sal afdroog.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!