Stofstorm bring padtragedie

Andrew Poolman
’n Dodelike padongeluk te midde van ’n erge stofstorm op die B2-hoofpad naby Arandis het gisteroggend die lewe van Morné Openshaw (48) van Windhoek geëis.

Openshaw het ’n besigheid met braaihout en houtskool bedryf en was klaarblyklik op pad met ’n aflewering op ’n sleepwa.

In die nuusverklaring het die Namibiese polisie gesê die botsing reg van voor tussen ’n dubbelkajuitbakkie en ’n vragmotor was die gevolg van swak sigbaarheid wat deur sterk wind veroorsaak is.

Op ’n WhatsApp-groep vir Windhoek Hoërskool se matriekgroep van 1993 wat beplan om later vanjaar vir hul 30-jarige reünie byeen te kom, was Openshaw ’n gewilde figuur wat getrou vroeg soggens ’n inspirerende boodskap vermeng met sy humorsin en herinneringe van skooldae gestuur het. Hy het geen twyfel gelaat dat sy geloofslewe ’n baie hoë prioriteit was nie.

’n Gedeelte van sy laaste inskrywing gister om 08:18 het gelui: “Ek dink ek begin dalk nou ouer as 25 voel, die vingers, knieë en enkels wil nie meer saam die winter baljaar nie.

“Ek sit vemôre met ’n kniekombersie my wakker word en geniet terwyl ek die wind luister wat die koue uit die suide aanjaag.

“Ek gaan delf so effe in ’n filetjie of twee wat my terugvat na standerd 5 tot 8 jare waar kortbroek maar die inding was, nie net omdat jy die koue van die swembad gevrees het wat jou seniors jou mee gedreig het nie, maar ook uit respek vir hulle, en die tradisie wat daarmee saam gekom het.

“Ek sit dink aan die wit kniekoppe, en ’n bewe wat deur jou lyf tot by eerste pouse hardloop. . . self die oggend gewaai voor skool was maar onsmaaklik in die koue.

“Dit bring my dan by gewoond raak aan goed en sommer blatant dinge begin aanvaar.

“Ons doen dit in elke area van ons lewe, ons raak eers astrant en opstandig en dan leer ons maar met dit saam leef.

“Ons kyk rondom ons en standaarde is maar wat dit is, diens bestaan nie meer nie, paaie se gate verniel ons bande. . . maar ons aanvaar maar dat dit die nuwe norm is.

“Persoonlike bande en vriendskappe word lewend gehou deur whatsapps en sosiale media anders as die Saterdag braai en bymekaarkom, dis maar die nuwe trant. . . as ons dan wel bymekaar kom, is dit asof daar te min ure in ’n dag is om weer op te vang en dan vra ek myself maar hoekom. . . hoekom ‘verlang’ ons mekaar, maar maak nie tyd vir mekaar nie? Hoekom aanvaar ons maar alles net terwyl ons hele menswees wil gil van frustrasie. . . wat het van ons ‘fight’ geword? Is dit ouderdom of net pure laksheid?

“Die bene raak oud, en die koue val my aan, maar ek glo daar is nog bietjie ‘fight’ in my. . .

“Anders verlang ek maar net julle troppie en ek weet nie lekker of drie dae genoeg gaan wees om op te vang nie, ek voel ek het ’n halfdag met elkeen nodig.

“Mag die week gesaai wees met vrede en vreugde. Pas jouself en joune op en wees goed vir mekaar. Mooi loop. . . Arriewarrie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer