Die wrakstukke van die Cessna 210 wat op 30 Augustus op die oewer van die Zambezirivier op Impalila-eiland neergestort het. Foto Kenya Kambowe
Die wrakstukke van die Cessna 210 wat op 30 Augustus op die oewer van die Zambezirivier op Impalila-eiland neergestort het. Foto Kenya Kambowe

Vliegongeluk: Duitse gesin aan vingerafdrukke uitgeken

Ronelle Rademeyer
’n Plaaslike begrafnisondernemer kan voortgaan met die repatriasie van die Rings-gesin van vier wat drie weke gelede in die vliegongeluk op Impalila-eiland dood is, se oorskot na Duitsland.

“Die Namibiese polisie se forensiese patologie-afdeling op Katima Mulilo het die liggame van die vier Duitse slagoffers op Vrydag 16 September 2022 amptelik beskikbaar gestel vir repatriasie.

“Die oorskot van die Suid-Afrikaanse vlieënier is reeds voor dit vrygestel en afgehaal,” sê komm. Nelius Becker, hoof van die Nasionale Forensiese Wetenskapsinstituut van Namibië.

Hy sê aangesien familielede van die slagoffers nie na Namibië gereis het vir die amptelik identifisering nie, het dit die uitkenning van die slagoffers bemoeilik.

“Identifikasie is ’n noodsaaklike administratiewe en wetlike vereiste in die geval van onnatuurlike sterftes. Dit het 'n vertraging veroorsaak aangesien ander metodes van identifikasie gedoen moes word.”

Me. Nicole Mienie (21) is deur haar werkgewer by Scenic Air uitgeken terwyl vingerafdruk-identifikasie in die geval van die Duitse gesin gebruik het, het Becker by navraag verduidelik.

Sy was op 30 Augustus met die Duitse gesin van München, mnr. Thomas Rings (59), sy vrou, dr. Evelyn Wiesmeier-Rings en hul dogters, Alicia (19) en Paulina Rings (17), vanaf die Chobe Water Villas op pad na Windhoek toe die Cessna Centurion C210 waarin hulle gevlieg het, kort ná opstyging in die Zambezirivier neergestort het.

’n Gedenkdiens is die afgelope naweek vir Mienie op haar tuisdorp Oudtshoorn in die Suid-Kaap gehou.

“Die oorskot van die Duitse gesin is egter steeds by die Katima Mulilo-lykhuis aangesien ’n plaaslike begrafnisondernemer tans reëlings tref om dit na Duitsland te neem. Dit sal na verwagting hierdie week geskied,” sê Becker.

Intussen is die vliegtuig se enjin gister en eergister deur deskundiges by die Wonderboom-lughawe by Pretoria ontleed om vas te stel wat tot die ongeluk aanleiding gegee het.

Mnr. Magnus Abraham, direkteur van die direktoraat vliegtuigongelukondersoeke in die ministerie van werke en vervoer, sê met dít afgehandel verwag hy om teen die einde van die week sy direktoraat se voorlopige verslag oor die ongeluk vry te stel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!