Vliegramp: Drie families in rou

Geen opname van laaste oomblikke
Die owerhede is steeds besig om die oorsake en bydraende faktore vir die ongeluk vas te stel.
Iréne-Mari van der Walt,Kristien Kruger
Iréne-Mari van der Walt en Kristien Kruger – Gister is bekend gemaak dat daar geen opname bestaan van die laaste oomblikke aan boord die ligte vliegtuig wat Vrydag neergestort en drie lewens geëis het nie.

Die hoof van die direktoraat van vliegtuigondersoeke in die ministerie van werke en vervoer, Magnus Abraham, het bevestig daar was geen toerusting aanboord wat die laaste woorde van sy bemanning of enige inligting van die vlug opgeneem het nie.

“Dit word nie deur die wet vereis vir dié soort vliegtuig nie,” het hy gesê.

Die Cessna 406-vliegtuig het Vrydag net ná 17:00 – kort nadat dit van die Eros-lughawe opgestyg het vir ’n toetsvlug – in Rieckmannstraat, Pionierspark, in die hoofstad neergestort en aan die brand geslaan.

Die drie oorledenes is geïdentifiseer as die 33-jarige vlieënier, Rozanne de Beer-Olivier, haar medevlieënier Ruan van Schalkwyk (24) en ’n vliegtuigingenieur Armand Lubbe (25).

Sedert die ongeluk het huldeblyke vir die drie slagoffers en bemoedigende boodskappe vir hul geliefdes in die sosiale media ingestroom.

Armand Lubbe se alma mater, Windhoek Hoërskool, het op hul Facebookblad gesê: “Armand se aansteeklike glimlag en lus vir die lewe het die harte van almal geraak wat hom geken het. Hy laat ’n nalatenskap van vriendelikheid en veerkragtigheid na wat nooit vergeet sal word nie.

“WHS sal vir ewig die herinneringe en voetspore van Armand se tyd met ons by die blou skool koester,” lui die plasing.

Armand het in September aan sy meisie, Lara Engelbrecht, verloof geraak.

Rozanne de Beer-Olivier, wat reeds sedert 2017 by Westair gewerk het, het volgens ’n bron glo meer as 1 000 se vliegure met ’n Cessna 406-vliegtuig aangeteken.

Volgens ’n voormalige kollega van Rozanne “was sy baie goed in haar werk en vreeslik gedissiplineerd”.

Sy was ’n Suid-Afrikaanse burger wat haar man, Phillip – ook ’n ervare vlieënier van Suid-Afrika – tydens haar werk in Namibië ontmoet het.

Sy was glo baie lief vir hekel en versot op haar twee honde.

Ruan van Schalkwyk was die jongste van die drie slagoffers en het slegs ’n jaar gelede by Westair aangesluit.

“Ruan was niks minder as ’n fantastiese mens nie. Hy het altyd tyd gemaak vir almal wat spesiaal was in sy lewe en was almal se beste pel. Hy het nooit ’n slegte woord oor enigiemand te sê gehad nie. As ’n familie is ons stukkend en ons harte sal nooit weer heel kan wees nie. Ons kies om Ruan te onthou vir die goedhartige mens wat hy was, altyd vol grappies,” sê Ruan se suster, Robin van Schalkwyk.

Ruan en sy meisie, Suné, was tien jaar lank in ’n verhouding en het mekaar op hoërskool ontmoet. Dié paartjie het glo daarna uitgesien om te trou en saam oud te word.

Ruan se naasbestaandes bedank Westair asook hul familie en vriende vir hul bystand en omgee in hierdie moeilike tyd.

“Rus sag Boetie, jy het nou jou regte engelvlerke, vlieg hoog.”

‘HULLE SAL GEMIS WORD’

“Hierdie tragiese voorval het ons almal by Westair diep en persoonlik geraak en ons deel ons innige meegevoel met almal wat deur hierdie tragiese verlies geraak is. Ons harte en innige simpatie gaan uit na die familie en geliefdes van Rozanne, Ruan en Armand. Hulle sal baie gemis word,” lui ’n verklaring wat Westair Saterdag uitgereik het.

Die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA) het ook in ’n verklaring sy medelye betuig aan die families en vriende wat deur hierdie tragiese voorval geraak is.

OORSAAK EN ONDERSOEK

Abraham het gister bevestig die wrak van die vliegtuig is na hul fasiliteite by die Eros-lughawe geskuif.

“Ons kan verseker dat ons die oorsake en bydraende faktore saam met ons vennote en die vervaardigers sal vasstel.”

Westair, waar al drie oorledenes in diens was en aan wie die ligte vliegtuig behoort het, het ook die publiek verseker dat ’n omvattende ondersoek van stapel gestuur is in samewerking met veiligheidsdeskundiges en die betrokke owerhede.

“Ons is vasbeslote om te verseker dat alle nodige stappe gedoen word om te verhoed dat so ’n voorval weer gebeur.”

“Die veiligheid en welstand van ons passasiers en bemanning is ons hoogste prioriteit, en ons is daartoe verbind om die presiese oorsaak van hierdie voorval te verstaan,” lui Westair se verklaring. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer