Die toneel van die ongeluk. Foto Kenya Kambowe
Die toneel van die ongeluk. Foto Kenya Kambowe

Vliegtuig val ná vlerk boom tref

Ronelle Rademeyer
Die linkervlerk van die Cessna 210N van Scenic Air wat op 30 Augustus op Impalila-eiland neergestort het, het ná opstyging ‘n boom langs die Zambezirivier getref en met die regtervlerk eerste die water getref.

Daarna het die vliegtuig se neus die water met so ‘n impak getref dat die enjin en propeller van die romp afgebreek het.

Dít bly uit die voorlopige ondersoekverslag deur die direktoraat vliegtuigongelukondersoeke in die ministerie van werke en vervoer wat gister vrygestel is.

Luidens die verslag het die vlieënier, me. Nicole Mienie (21), kort nadat sy met haar vier passasiers vanaf die vliegveld op die eiland opgestyg het, na links gekantel.

Volgens die drywer van die voertuig wat hulle vanaf die Chobe Water Villas na die vliegveld geneem het, het die vliegtuig skerp gekantel, na links weggedraai en daarna het dit verder na links geswenk. “Volgens die ooggetuie het die linkervlerk 90 grade afwaarts gewys en ‘n boom naby die rivier getref, waarna die vliegtuig naby aan die oewer in die rivier neergestort het,” lui die verslag.

Mienie het dié betrokke oggend om 05:55 vanaf Eros-lughawe in Windhoek na die eiland gevlieg om ’n Duitse gesin van München, mnr. Thomas Rings (59), sy vrou, dr. Evelyn Wiesmeier-Rings en hul dogters, Alicia (19) en Paulina Rings (17), te gaan oplaai. Hulle was op pad terug Windhoek toe ná ’n vakansie op die eiland.

Volgens die drywer het hy reeds met die Rings-gesin by die vliegveld gewag toe Mienie land.

Sy het hulle bagasie ingelaai, maar opdrag gegee dat twee bagasiestukke agterbly.

Thomas, ’n meganiese ingenieur en senior vennoot van die internasionale maatskappy Kearney, het volgens die verslag voor langs haar gesit.

Sy vrou het agter hom gesit en hul dogters onderskeidelik langs en links agter haar.

Die drywer van die voertuig en ‘n vrou wat saam met hom daar was, het hulle na die rivier gehaas nadat die vliegtuig geval het. Hulle het die vlootbasis op die eiland gekontak, asook die polisie wat daar gestasioneer is.

daar aangekom het hulle ‘n ander ooggetuie gewaar wat hom ook na die toneel gehaas het.

Met hulle aankoms het hulle twee stemme om hulp hoor roep, blyk dit uit die verslag.

“Die drywer het probeer om in die vliegtuig te kom, maar dit was moeilik as gevolg van die lekkende brandstof en die ruie plantegroei,” lui die verslag.

Volgens die verslag was die impak so erg dat niemand die ongeluk sou kon oorleef nie.

Dit blyk Mienie het 310,2 vliegure se ondervinding gehad, met 82,1 ure op dié spesifieke vliegtuig. Sy het haar kommersiële vlieglisensie in Suid-Afrika bekom.

Hoewel ’n volledige verslag oor die ondersoek na die enjin nog van die ondersoekers by die Wonderboom-lughawe by Pretoria verwag word, dui bewyse nie op enige gebreke nie. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!