Vyftien dood van 'giftige' mahangu
Monsters na Suid-Afrika gestuur
Die meerderheid van die oorledenes is kinders onder die ouderdom van 10.
Kenya Kambowe – Honger en armoede het glo tot 15 sterftes onder lede van ’n familie van Kavango-Oos gelei.
Hulle het vermoedelik vergiftigde kos geëet nadat hulle vroeër die dag riete vir graan verruil het om die familie te kan voed.
Die familie van 22 lede bestaan uit vier huishoudings wat naby mekaar geleë is, terwyl nie een van die lede ’n vaste werk het nie. Hulle woon in die dorp Kayova.
Die sterftes word gekoppel aan mahangu-graan wat die familie gekry het nadat hulle riete daarvoor verruil het. Dit is nog nie die seisoen om riete te oes nie, maar die familie moes dit noodgedwonge doen in ruil vir kos.
Die mahangu kom van ’n familielid af wat geïdentifiseer is as Fabianus Mukoya en net sowat 500 meter verder woon.
Teen Dinsdagmiddag is 13 mense oor ’n tydperk van drie dae dood en die dodetal het gister tot 15 gestyg.
KINDERSTERFTES
Die noodlottige maaltyd het na bewering pap ingesluit wat van mahangu gemaak is wat voorheen vir ’n tradisionele brousel gebruik is.
Die meerderheid van die oorledenes is kinders onder die ouderdom van 10.
Luidens ’n voorlopige polisieverslag het die familie Saterdagaand siek geword nadat hulle aandete geëet het.
Die hele familie is in die Nyangana Katolieke Hospitaal opgeneem waarna 14, wie se toestand kritiek geword het, na die Rundu-staatshospitaal vervoer is.
Twee mense is aanvanklik in die Nyangana-hospitaal dood, maar die dodetal het tot sewe gestyg nadat vyf ander teen Maandag in die staatshospitaal op Rundu gesterf het.
Die polisie het Dinsdag bevestig dat die dodetal tot 13 gestyg het nadat nog ses in die Rundu-hospitaal dood is. Nog twee het tussen Dinsdagmiddag en gisteroggend gesterf. Tans ontvang sewe mense nog behandeling by die hospitaal.
VERWARD
Mukoya het gesê sy familie verkoop sedert 2014 mahangu wat voorheen gebruik is om ’n tradisionele brousel vir gemeenskapslede te maak, en geen soortgelyke voorval is ooit ervaar nie.
Oor die tragedie het hy gesê hy is verward oor wat gebeur en het bygevoeg hy het sedert Sondag nie geëet nie.
“Dit is my familielede, ek het in daardie huis grootgeword. Hulle kom al die afgelope vyf jaar daardie korrels haal en niks het met hulle gebeur nie. Ek is verward.
“Ons het vir hulle die korrels gegee omdat hulle gesê het hulle het niks om te eet nie,” het Mukoya gesê.
Hy het bygevoeg hy is verbaas oor die feit dat sy vrou ’n bietjie van die mahangu geëet het voordat hy sewe skeppe vir die ander familielede gegee het. Niks het met haar gebeur nie.
Twee ander gesinne het glo daardie dag van dieselfde mahangu gekry, maar het nie siek geword nie.
‘ENIGIETS KON GEBEUR HET’
Met gerugte wat die rondte doen dat sy graankorrels die tragedie kon veroorsaak het, het hy volgehou sy gesin is onskuldig en hy nie weet wat gebeur het tussen die tyd dat hulle die mahangu oorhandig het en toe die familie die korrels gestamp en hul maaltyd voorberei het nie.
“Enigiets kon gebeur het en ek wil nie spekuleer nie, maar mense moenie die vinger na die mahangu en my gesin wys nie, want ons was net so verbaas toe ons hoor wat gebeur het. Die ruiltransaksie is in goeder trou gedoen,” het hy gesê.
In ’n verklaring Dinsdag het Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, gemeenskappe ontmoedig om voedsel met materiaal wat potensieel besmet is, voor te berei of te meng.
Hy het bygevoeg sy ministerie het verseker dat maatskaplike werkers in hierdie moeilike tyd na die bedroefde familie omsien.
Monsters van die mahangu – om vir voedselvergiftiging te toets – is na Suid-Afrika gestuur. Geen arrestasies is nog gemaak in afwagting op die toetsuitslae nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie