Immanuel Stefanus (57) with three of the survivors.
Immanuel Stefanus (57) with three of the survivors.

Weerlig slaan vyf dood

'Dit is so seer'
'n Oorlewende van die weerligvoorval in die Epembe-kiesafdeling onthou oomblikke voordat die tragedie getref het.
Enzo Amuele
Verlede Dinsdag terwyl dit sag gereën het, het nege familielede – almal onder die ouderdom van 20 – skuiling in Immanuel Stefanus se plakkershut in die Oneifiya-nedersetting gesoek.

Dit was omstreeks 18:00 – die tyd wat gesinne in dié dorpie in die Ohangwenastreek se Epembe-kiesafdeling sou begin om aandete voor te berei ná ’n lang dag se werk.

Die ouers was weg om ’n begrafnis by te woon. Alhoewel die reën net sag geval het, was daar donderweer en weerlig en dit is hoekom hulle skuiling in die hut gesoek het.

Een van hulle het ’n selfoon by hom gehad. Hulle het hom gewaarsku om dit weg te sit, maar hy het nie. Kort daarna het weerlig die hut getref en vyf van die nege lede – insluitend die selfooneienaar – is op die toneel dood. ’n Brand het ontstaan en die hut het binne minute afgebrand.

Anna Immanuel (18), Victoria Immanuel (16), Matheus Lukas (4), Ruth Kashaalwa (12) en Matheus Phillipus (19) het volgens die polisie onherkenbaar verkool.

Die vier oorlewendes – die oudste van hulle is 19 jaar oud en die jongste ’n minderjarige wie se ouderdom nie geverifieer kon word nie – is na die Eenhana-staatshospitaal vir mediese behandeling geneem. Onder hulle was ’n vierjarige kind wat brandwonde aan haar arms, rug en gesig opgedoen het.

KON NIKS DOEN NIE

Een van die oorlewendes wat die verhaal vertel het, was die 18-jarige Tangeni Modestus, wat die gesin besoek het.

“Net oomblikke nadat ek een van die oorledenes gewaarsku het om sy foon weg te sit, het ek net vlamme in die hut gesien, en ek is uit die hut geslinger. Twee van die kinders wat binne die hut was, is ook [uitgegooi],” het hy gesê.

Modestus het gesê hy het dadelik na die nabygeleë sjebeen vir hulp gehardloop

“Voordat ek by die sjebeen aangekom het, het ek vir Johannes Paulus raakgeloop, wat ook by ons tuisgaan. Iemand het hom oor die brand ingelig,” het die tiener gesê.

Volgens Paulus was die hut met sy aankoms reeds afgebrand en die slagoffers verkool.

“Ons het net daar gestaan en begin huil. Ons kon niks doen nie.”

Immanuel Stefanus, die 57-jarige eienaar van die huis en ’n plaaswerker by Gobabis, het die begrafnis van sy vrou se suster in Omuthiya bygewoon toe hy ’n oproep die volgende dag om 06:00 ontvang het dat weerlig drie van sy kinders doodgeslaan het. Die ander twee slagoffers was besoekers.

BAIE PYN

“Ons is dadelik terug na Eenhana en ons is meegedeel dat die kinders wat oorleef het by die hospitaal is,” het hy gesê.

“Dit is so seer. Dit is die eerste keer dat ek van so ’n voorval in hierdie omgewing hoor. Ek verstaan nie hoekom dit met my kinders gebeur het nie,” het hy gesê.

Stefanus het barmhartige Samaritane aangemoedig om sy gesin met enigiets te help, aangesien hy baie min verdien.

Matheus Nanghama, raadslid van die Epembe-kiesafdeling, het ook om hulp vir die gesin gepleit.

“Die familie het regtig hulp nodig, ons moet almal saamkom en help," het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer