Foto Frank Steffen
Foto Frank Steffen

Westair beloof om huise te herstel ná vliegongeluk

Iréne-Mari van der Walt
Die huise wat beskadig is toe ’n ligte vliegtuig van Westair Aviation onlangs in die hoofstad neergestort het, sal herstel word.

So het ’n verteenwoordiger van Westair gesê en bevestig dat assessore reeds op die toneel was.

“. . . ons koördineer met alle belanghebbendes om die huise so gou moontlik te herstel,” het die verteenwoordiger gesê.

Westair het ook intussen sekuriteitsdienste aan die geaffekteerde gesinne verskaf tot hul huise herstel is.

Westair se personeel het ook gehelp om die ongelukstoneel op te ruim.

SLAGOFFERS

Die ongeluk twee weke gelede het die lewens geëis van die vlieënier Rozanne de Beer-Olivier (33), haar medevlieënier Ruan van Schalkwyk (24), en die vliegtuigingenieur Armand Lubbe (25).

Hulle het die vliegtuig op ’n toetsvlug geneem nadat herstelwerk gedoen is. Westair het verlede week ’n gedenkdiens vir die drie slagoffers gehou.

ONGELUKVERSLAG

Verteenwoordigers van die direktoraat van vliegtuigondersoeke in die ministerie van werke en vervoer vermoed dat een van die vliegtuig se enjins onklaar geraak het. Dié vermoede moet egter nog bevestig word.

Die voorlopige ongelukverslag sal na verwagting teen die einde van die maand voltooi wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer