Alleen op ’n rotsagtige eiland
Natuurbewaarder, fotograaf en hoof van Mercury
Rian Jones het 'n leeftyd van 26 jaar tussen pikkewyne en malgasse op sy klipeiland bestee.
Rian Jones, ’n natuurbewaarder in hart en siel wat die afgelope 26 jaar stoksielalleen op Mercury-eiland buite Lüderitz woon, moet aan die einde van die jaar aftree.
Hy gesels oor sy lewe en hoe hy per toeval op dié verlate rots tussen honderde pikkewyne en malgasse beland het.
“Kry jou kop reg; daar is niemand anders nie. Ons – ek en jy – moet nou na die natuur, ons omgewing en die wêreld omsien,” sê hy.
“Draai die kraan toe terwyl jy jou tande borsel. Maak voerplek in jou tuin vir die voëltjies; dis per slot van rekening ons wat hul spasie oorneem.
“Hou op gryp na ’n blik Doom omdat ’n spinnekop dit waag om in jou ruimte te beweeg. Gaan plant iets. Kry jou kop reg, dis al ’n goeie begin.”
BEGIN
Rian is in Pretoria gebore en het sy hoërskooldae by die Landbouskool Bekker op ’n plaas buite Magaliesburg voltooi.
“Dit was ’n skool wat ook landbou aangebied het. Diere, natuur en weg van die stad het vir my soos ’n wenresep geklink.”
Ná skool was hy soos alle seuns destyds weermag toe en was hy in die 14de Veldregiment op Potchefstroom gestasioneer. Daarna is hy na die tegnikon in Pretoria om ’n nasionale diploma in natuurbewaring te verwerf.
“Ek moes ’n finale praktiese jaar doen en was gelukkig om ’n aanstelling in Etosha te kry. Sou ek my evaluasiejaar slaag, kon ek ’n permanente aanstelling daar kry. Vir die volgende nege jaar het ek in Etosha gewerk voordat ek ’n verplasing na die Daan Viljoen-wildtuin gekry het.
“Vir my was dit nie regtig ’n bevordering nie, maar daai tyd kon mens nie regtig verplasings weier nie. Dit het aanvanklik meer administrasie en kantoorwerk geverg en ek het die leeus, olifante en renosters asook die son op my vel gemis. Wonderlike natuur is vervang met struwelinge en kopsere met besope naweekbesoekers.”
Deur die streekkantoor in Windhoek het hy betrokke begin raak by plaasinspeksies en uiteindelik ook wilddiefstalsake, wat hom lang ure in die hof besig gehou het.
“Dit was juis met so ’n saak dat ek die bestuurder van ’n plaas ontmoet het. Toe hy die plaas verlaat, is sy werk vir my aangebied. Die eienaar was ’n Duitser met groot planne. Hy wou ’n krokodilboerdery begin waarvan ek die bestuurder sou wees.
“Die geld wat aangebied is, was baie aanloklik en vir die eerste keer in my lewe het ek ’n skuif gemaak met geld as die motivering. Dit was ’n ramp. Die krokodilaanleg het nooit gerealiseer nie; toe ’n buurman die eienaar skiet ná ’n stryery oor ’n grenshek wat oop gelos is, het alles tot ’n einde gekom. Ek was oornag werkloos.”
Hy het probeer om weer by natuurbewaring werk te kry, maar Namibië het toe pas onafhanklik geword en nuwe aanstellings is nie gedoen nie.
KOERANT
Ná ’n paar werklose maande het hy deur ’n vriendin van ’n vakature vir ’n fotograaf by die destydse Sondagkoerant Tempo gehoor.
“Ek was desperaat en het die geleentheid met beide hande aangegryp. Fotografie was ook ’n stokperdjie van my. Persfotografie is egter ’n perd van ’n heel ander kleur. Veral daai era se swart-en-wit, om presies te wees.”
Die werk het behels dat hy talle funksies moes bywoon en foto’s neem.
“Ek het altyd probeer om iets anders as die gewone handskudfoto te neem en dit was só ’n foto wat die aandag van die destydse Mexikaanse ambassadeur getrek het. Hy het my gehuur om elke geleentheid wat hy bygewoon het op kamera vas te vang. Ek het sy persoonlike fotograaf geword en met dié wat ek die foto’s by sy kantoor afgelewer het, het ek sy sekretaresse ontmoet.”
Toe hy weer foto’s afgegee het, het sy hom aan haar vriendin Imke voorgestel wat in beheer van die eilande langs die Namibiese kus was.
“Ek het grappenderwys gevra: ‘Daar is nie dalk een van die eilande wat oop is nie?’ Ek was om die eerlike waarheid te sê nie eens regtig bewus van die eilande nie. Hoewel ek tevore gereeld die term ‘Walvis Bay and the offshore islands’ gehoor het, kon ek nie regtig betekenis daaraan heg nie.”
Daar was wel ’n eiland oop en Rian se lewe het ’n nuwe pad ingeslaan.
MERCURY
Rian moes ’n intense sielkundige toets aflê en die eiland besoek. Sou hy dan steeds belangstel, was die pos syne.
Hy is as die senior visserye navorsingstegnikus aangestel en op 1 Junie 1996 het hy op die houtskuit Kuiseb geklim om sy amp as hoof van Mercury op te neem – ’n pos wat hy tot sy aftrede later vanjaar sal hê.
“Ek het gou besef Mercury-eiland sou die moeder van alle uitdagings wees. Die toetse moes onder meer bepaal hoe ek ekstreme isolasie sou hanteer, en die daaropvolgende besoek aan die eiland het alles vir my duidelik gemaak.
“Mercury is ’n drie hektaar rots wat noord van Lüderitz in Spencerbaai bo die seewater uitsteek. Die bootreis soontoe is sowat agt ure. Heen en weer is ’n twee dae vaart, en ook net wanneer die see en die wind dit toelaat.
“Dit was rof. Die akkommodasie was twee plankhutte wat op klip en houtpilare gestaan het. Dis in vervloë tye deur robbepels- en guano-handelaars gebou.
“Vars water was uiters beperk, met ’n klein watertenk vir opgaar. Geen bad of stort nie. Daar was nie krag nie. Net ’n klein draagbare petrol kragopwekker. Al wat daar was vir kommunikasie, was ’n burgerbandradio (CB). En dit was waarvoor die kragopwekker en brandstof gespaar is. Want soms, net soms kon mens ná tweeuur in die oggend deur al die gekrap hoorbaar kontak maak met die lighuisbestuurder op Diazpunt op Lüderitz.
“Daar was geen toilet nie. Daar was nêrens ’n plat gedeelte nie; behalwe vir die plankbalkon voor die hutte – wat eers later gebou is – klouter jy óf rotse op, óf rotse af.
“Al wat daar baie van was, was die gebrek aan beskawing. ’n Oorvloed onbesoedelde, rowwe, rou natuur. Baie afwesigheid van mense, geboue, plastiek, glas en teerpaaie. Dit het my soos ’n handskoen gepas.
“Omstandighede het oor die jare verander en lewensomstandighede het ná ’n paar opgraderings baie verbeter, hoewel dit steeds vir seker nie ’n maklike lewe is nie.
“Onderhoudskoste van ’n meer moderne boot het ontsaglik duur geraak, en jy kan eenvoudig nie staatmaak op ’n besoek nie – ongeag jou behoefte vir ’n vars tamatie, of voorskrifmedisyne.”
WERK OP DIE EILAND
Gereelde deurlopende tellings van die voëls op die eiland is maar een van Rian se take.
“Dis nie eenvoudige tellings nie. Elke spesie word op sy manier getel. Dan is daar die tellings van aktiewe neste. So word al die spesies getel, volgens hoe hul biologie en gedrag dit dikteer.
“Maar dis nog net tellings. Daar is nog heelwat ander navorsing van aspekte waaraan die welstand van die voëls gemeet word. Dinge soos die gewig van kuikens, aantal kuikens per nes, hoeveel kuikens suksesvol die nes verlaat. Hoe ver gaan soek hulle vir vis, hoe verander dié afstande oor tyd, watter soort vis vang hulle, en so aan.
“Baie van die werk word in samewerking met navorsers van oor die wêreld gedoen, omdat die spesies almal bedreig is. Van die navorsing is dus op daai aspek gerig, maar dit hou steeds verband met die gesondheid aangaande die groter Benguela-opwelstelsel.”
Hy moet ook probleemdiere beheer, wat hoofsaaklik beteken die robbe wat seevoëls teiken.
“Asseblief, dit het niks te doen met robbe wat te veel is nie, want hulle is nie. Dit het veel meer te doen met balansversteurings in die ekosisteem. Mensgemaakte versteurings, om presies te wees. ’n Rob wat begin seevoëls vang, bly in die gewoonte en hou aan om hulle te jag, as ’n maklike prooi. Dis dus belangrik om ’n rob wat in dié gedrag geskool is, so gou moontlik te identifiseer en te verwyder, aangesien jongelinge die gedrag aanleer.”
Hy moet voëls versorg wat weens besoedeling, beserings of verwaarlosing rehabilitasie benodig.
“Die besoedeling is hoofsaaklik olie. Dis verskriklik arbeids- en koste-intensief en kan tot drie maande neem om so ’n pikkewyn of ander seevoël weer suksesvol in die natuur vry te laat.”
Beserings kan gebeur deur enige iets van ontsnappings deur roofvisaanvalle tot vishoeke en -lyn. Die ingryping van ’n veearts word dikwels vereis, wat weens die logistieke uitdagings beteken die voëls moet lank aangehou word.
Verwaarlosing is volgens hom nie die regte woord is nie, want die ouers is so lojaal as wat kan kom.
“Dis eerder dinge soos die temperatuur. Wanneer dit bo 25 grade styg, kan die ouers dit nie hanteer nie en hulle moet see toe. Kuikens is aan die son blootgestel en word gedwing om die nes te verlaat. Dié wat nie in die proses omkom nie, verdwaal en vind nie weer hul neste nie. Hulle moet dan ingeneem word.
“Tekort aan vis is nog ’n faktor. As daar nie genoeg is vir beide kuikens nie, kompeteer die sterker een beter vir kos en word hy sterker, terwyl die swakker een net swakker word. So ’n kuiken het geen kans op oorlewing, sou hy nie ingeneem word nie.”
HOOGTEPUNTE
“Een jaar het ons vir kreefopnames en navorsing geduik. Vanuit die diepsee het ’n groep dolfyne aangekom wat net meer en meer geraak het. Daar was duidelik interaksie met die twee duikers wat nog onder die water was.
“Ons wat reeds terug op die boot was, het weer duikpakke aangetrek en het vir sowat 20 minute net vry saam en tussen die dolfyne geswem – wat ons later op sowat 300 geskat het.
“Hoogtepunte is dinge soos ’n pikkewyn wat van die eierstadium af grootgemaak en suksesvol die diep donker bloutes in is. Wat sy jaar op die see oorleef, veilig terugkom, en een onverwagse salige oggend, staan hy voor jou.
“Die drie orkas (moordvisse) wat kom kuier het, sal ek nooit vergeet nie en natuurlik deel ek die eiland met die grootste bevolking bankduikers in die hele ganse wêreld.”
Om op ’n eensame eiland te woon, het egter ook sy nadele, soos toe beide sy ouers ’n maand uitmekaar gesterf het en daar geen boot beskikbaar was wat hom van die eiland kon gaan haal nie.
AFTREDE
Ná al die jare is dit vir Rian steeds ’n aanpassing om weg van die eiland te wees en om terug te gaan moet hy “sy kop regkry”.
“Die eiland is ’n plek waar die buitewêreld gou ophou bestaan; dit bly elke keer ’n skok wanneer ek in die realiteit daarvan vasloop. Maar sodra dié aanpassings gemaak is, is dit ook nie ’n grap om te weet jy gaan nou terug na ’n drie hektaar grootte rots nie.
“Tog, as ek eers daar aankom, besef ek elke keer wat ’n spesiale plek dit is en hoe ek dit gemis het.”
Later vanjaar moet hy aftree, wat nog ’n groot aanpassing vir hom sal wees.
“Bewaringswerk doen mens omdat dit ’n passie is, nie oor die verskriklike klomp geld wat jy daaruit maak nie. Maar as die eiland my een ding geleer het, is dit om te oorleef.
“Dalk sal ek weer my boek probeer klaarmaak en ook meer tyd bestee om te probeer skilder. Dinge by my huis doen en regmaak, waarvoor daar op ’n eilandlewe nooit tyd was nie. Dan is daar die liefde in die Wes-Kaap. . .”
RAAD
“Die grootste fout wat ons as mense maak aangaande die toestand van die aarde en die natuur en ons omgewing, is die aanname dat iemand anders dit sal regmaak.
“Daar is nie iemand anders nie, dis ek en jy. Ons natuurlike omgewing is nie ’n gerieflike tydverdryf nie, dis ’n stelsel waarvan ons integraal deel is en waarsonder ons nie kan bestaan nie.
“As ons net respek kan terugkry vir Moeder Natuur en die ongelooflike diversiteit van lewe om ons, slegs dan kan ons weer begin droom oor ’n wêreld, oor ’n natuur wat nie bewaring nodig het nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie