Basterkaptein kap terug
Vaderlike wette bly gewoontereg, sê Britz
Jacky Britz sê die hofuitspraak het by implikasie sy verkiesing as kaptein verklaar.
Die verkose kaptein van die Basters, Jacky Britz, dring in ’n nuusvrystelling daarop aan dat die Bastergemeente se vaderlike wette wel die onafhanklikwording van Namibië oorleef het en dat hy steeds die kaptein en leier van sy raad bly.
“Die kaptein en sy raad is die beskermheer van die vaderlike wette en sal dit met alles in hul vermoë verdedig,” skryf hy.
Die verklaring is Vrydag uitgereik na aanleiding van die onlangse uitspraak deur regter Orben Sibeya in die hoërhofaansoek wat deur sy mededinger in die 2021 kapteinsverkiesing, Rynault van Wyk, ingedien is.
Sibeya het teen Van Wyk beslis, die saak van die hofrol geskrap en Van Wyk opdrag gegee om die regskoste te betaal. Die regter het ook bevestig dat die vaderlike wette, waarop die verkiesing gebaseer was, nietig is.
Britz sê egter: “Selfs die Verenigde Nasies (VN) erken die bestaansreg van ons vaderlike wette en slegs die Bastergemeente kan dit nietig verklaar.”
Volgens Britz verklaar Sibeya se uitspraak dat hy die wettig verkose tradisionele leier van die Rehoboth Bastergemeente is. Verder sê hy dit is binne elkeen se eie reg om nie die kaptein te erken nie, maar diegene wat so besluit, moet dan ook andere se reg respekteer om hom as kaptein te erken.
Britz haal die hooggeregshof se uitspraak van 1993 aan waarin dit gestel word dat die vaderlike wette die land se onafhanklikwording oorleef het, hoewel in ’n erg gesnoeide vorm.
Verder is in 1996 bevind dat die vaderlike wette weens die verband met Wet 56 van 1976 ook geskrap is, maar dat dit slegs politieke regte aanraak en dus “nie ons gewoontereg (nie)”, dring hy aan.
“Die vaderlike wette is dus lewend en word gebruik deur ’n vrye vereniging van persone, genaamd die Rehoboth Bastergemeente,” skryf Britz.
Britz verwerp ook die “vergifting” in die sosiale media en stellings dat hy die vaderlike wette vernietig het.
“Ek wil u gerus stel dat dit ’n spul leuens is wat verdien om met minagting verwerp te word,” skryf hy verder.
Britz laat sy volksgenote weet dat elke mens keuses maak en die gevolge daarvan moet dra.
“Dis ’n pynlike proses om te ervaar hoedat ons vuil wasgoed in die openbaar uitgehang word, maar die geskiedenis sal ons oordeel,” skryf hy. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie