Bipa hernu nie hoof se kontrak

Raad se lippe geseël oor nuwe ontwikkeling
Vivienne Katjiuongua het verlede week bevestig dat haar kontrak vandeesmaand verstryk.
Mathias Haufiku
Die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) se raad van direkteure het Maandag bevestig dat die kontrak van sy uitvoerende hoof, Vivienne Katjiuongua, wat vandeesmaand verstryk, nie hernu sal word nie.

Ainna Kaundu, die uitvoerende hoof vir intellektuele eiendom en registrasiedienste, sal as waarnemende uitvoerende hoof oorneem.

Dié aankondiging is gemaak op ’n verpligte personeelvergadering wat Maandagmiddag deur die raad belê is.

Katjiuongua het verlede week aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat haar kontrak vandeesmaand verstryk.

NMH het van ingeligte bronne in Bipa verneem dat die maatskappy se raad Donderdagaand vergader het om oor Katjiuongua se toekoms te besluit. Die redes vir die raad se besluit om paaie met sy uitvoerende hoof te skei is nog nie bekend gemaak nie, maar binnestanders glo dat Katjuongua se gespanne verhouding met werknemers ’n bydraende faktor kan wees.

Die voorsitter van Bipa se raad, Tino Hanabeb, het op navrae gesê: “Hierdie is ’n interne saak en ’n verklaring sal mettertyd uitgereik word.”

Katjiuongua het glo ’n salaris van N$1,29 miljoen per jaar verdien, wat ongeveer N$107 000 per maand is. Luidens haar dienskontrak is sy na bewering ook geregtig op ’n veranderlike prestasie-aansporingsbonus van tot 30% van haar jaarlikse vergoedingspakket.

Volgens die kontrak moet Bipa haar glo ook 10% van haar totale vergoedingspakket betaal as sy vyf jaar by die maatskappy werksaam is.



ONSTUIMIGE VERHOUDING

Katjiuongua het steeds ’n onstuimige verhouding met personeel, wat beweer Bipa word geteister deur swak werksomstandighede, afknouery, nepotisme en viktimisasie.

Katjiuongua het Maandag op navrae oor die aangeleentheid gereageer dat sy nie bewus is van enige besluit wat deur Bipa se raad geneem is in verband met haar kontrak nie.

“Ek sou glo dat indien enige besluit geneem is, die raad dit prosedureel en belangrik sou geag het om my eers oor enige sodanige besluit in te lig. Ek kan egter bevestig dat my kontrak op 15 Oktober verval.

“Ek kan verder bevestig dat ek verskeie interaksies met die raad gehad het – waarvan die laaste op 3 Oktober was – waar die raad aangedui het dat hulle my binne 24 tot 48 uur van hul besluit oor my heraanstelling sal inlig, met verwysing na die lynminister,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg: “Ek bly daartoe verbind om my werk by Bipa voort te sit en ek het vertroue in my vermoë om by te dra tot die owerheid se voortgesette sukses,” het sy gesê.



GEVRYWAAR

Katjiuongua is onlangs deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) gevrywaar nadat sy daarvan beskuldig is dat sy aangedring het dat ’n familielid by Bipa in diens geneem word.

Die ACC het Katjiuongua begin ondersoek nadat die kommissie ’n wenk ontvang het wat haar van korrupsie en nepotisme beskuldig het. Sy was glo in beheer van die werwingsproses van ’n nabye familielid vir die pos van bestuurder vir besigheidstrategie.

Katjiuongua het destyds bevestig dat Diana Katjiuongua in die pos aangestel is. Sy het ’n graad in siviele ingenieurswese, ondanks die feit dat die pos ’n meestersgraad in besigheidstrategie vereis.



PERSONEEL ‘OORWERK, ONDERBETAAL’

Katjiuongua was egter nie net op die ACC se radar nie. Die hoofsekretaris van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu), Petrus Nevonga, het haar ook genader om antwoorde te soek oor aansprake wat werknemers oor hul werksomstandighede maak.

Nevonga het in Julie in ’n brief gesê hy is bekommerd oor die gespanne werksverhouding tussen Bipa se bestuur en sy personeel, met laasgenoemde wat beweer dat viktimisasie, personeeltekorte en swak kommunikasie aan die orde van die dag is.

Die vakbond moes na bewering ook ingryp om die werkers se bekommernisse aan te spreek ná klagtes dat hulle oorwerk en onderbetaal is.

Bykomende werk is na bewering by hul posbeskrywings gevoeg sonder vooraf konsultasie en sonder veranderinge aan hul verdienste. Diegene wat die besluit teenstaan, word glo aan viktimisasie en intimidasie onderwerp.

Katjuongua het toe gesê dat Bipa sy strukture sal hersien om te sorg dat personeel nie oorwerk is nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer