Boubedryf dring aan op regulering

Augetto Graig
Augetto Graig

Ná jare se gesloer wag die land se boubedryf steeds in spanning op die regering om ’n raad vir dié bedryf aan te stel wat konstruksie­bedrywighede in Namibië kan ­reguleer.

Wetgewing is egter hiervoor nodig.

Die Federasie vir die Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF) se algemene bestuurder, me. Bärbel Kirchner, het gister in ’n verklaring gesê, “die regulering van die boubedryf sal Namibië help om armoede en werkloosheid hok te slaan.

Dit sal van die kwessies in verband met swak openbare gesondheids- en onderwysinfrastruktuur oplos.

“Gesien die regering se beleid, behoort dit geen verdere oorreding te verg om ons bedryf te reguleer nie. Met ’n regulerende raad aan die stuur sal ons die begin van die verandering sien, naamlik van ’n boubedryf wat almal se belange dien,” sê sy.

Die CIF poog al sedert 2006 om politici te oorreed om dit te doen, sê sy. Die eerste wetsontwerp op konstruksie en bouplanne is reeds in 2010 in die parlement ter tafel gelê, maar is terugverwys omdat meer werk daaraan nodig was.

Al die ministers van werke en vervoer is sedert minister Joel Kaapanda se tyd genader om die nodige wysiging van toepaslike wetgewing te ondersteun. Dit sluit in ­ministers Helmut Angula, Erkki ­Nghimtina, Alpheus !Naruseb asook die huidige minister, mnr. John Mutorwa

Mutorwa het vroeg hierdie jaar die nuutste wetsontwerp aan die kabinet voorgelê. Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, is voorsitter van die kabinetskomitee op wetgewing wat die wetsontwerp weer moet hersien na die wetskrywers daarmee klaar is.

“Die hoop is dat dit daarna in die parlement ter tafel gelê sal word,” sê Kirchner.

Sy is bang dat ’n nuwe minister in 2024 sal beteken die hele proses moet van vooraf begin.

Mutorwa deel haar frustrasie. “Ek is ook net so gefrustreerd,” het hy aan Republikein gesê.

“Dit is nie die enigste wetsontwerp waarop ons wag nie. Daar is ook die wetsontwerp op voertuigmassas, die wetsontwerp op paaie en die een op openbare passasiersvervoer,” sê hy.

Ook die nuwe wetsontwerp vir argitekte en ingenieurs sloer in die proses. “Ek hoop 2022 eindig nie sonder ’n enkele nuwe wet vanaf die ministerie van werke en vervoer nie,” sê Mutorwa.

“Versuim om deur die stigting van ’n regulerende raad die boubedryf te reguleer, het talle gevolge. Dit lei tot ondoeltreffende aanwending van openbare fondse, gebrek aan beheer van gehalte in die bedryf en gebrek aan enige middele om die Namibiese konstruksiebedryf in die belang van eg Namibiese ondernemings en die Namibiese ekonomie in die algemeen te laat groei,” sê Krichner.

“’n Mens kan nie help om ietwat ontnugter te voel as jy weet dit is die een stuk wetgewing wat die verskil in ons bedryf kan maak, en dit baie jare gelede al gedoen kon wees.

“Kom ons wees eerlik, ons weet almal dat ons ’n bedryf kan reguleer. Dit het al voorheen in ander sektore gebeur. Reg? En sal jy na ’n mediese dokter gaan wat nie by ’n raad geregistreer is nie?

“Ons kan dus net ’n beroep op ons politieke leiers en wetgewers doen om gou op te tree en ons bedryf te reguleer, anders sal daar van ons eie bedryf niks oorbly nie, en sal ons uiteindelik net van buitelandse kapasiteit afhanklik wees,” waarsku sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer