Boulter koop N 1 HB vir N$250 000

Die berugte Britse miljardêr het die burgemeester van Hentiesbaai se nommerplaat vir N$250 000 gekoop.
Adam Hartman
N 1 HB, die eerste Hentiesbaai-nommerplaat wat in Desember 2020 uitgereik is en wat die amptelike nommerplaat van die kantoor van Hentiesbaai se burgemeester geword het, is onlangs deur die Britse miljardêr mnr. Harvey Boulter vir N$250 000 gekoop.

Sommige meen hierdie amptelike Hentiesbaai-nommer het ’n verpersoonlikte nommerplaat vir Boulter geword, aangesien sy voorletters ook HB is.

“Dit is toevallig ook my voorletters, maar die rede hoekom ek waarskynlik oorbestee het – want dit is baie om op ‘n nommerplaat uit te gee – was vir ‘n goeie doel,” het Boulter gesê.

Hy het aangedui dat hy ook N 2 HB en N 3 HB van private eienaars gekoop het, maar het nie verklap vir hoeveel nie, hoewel dit glo nie naastenby soveel is soos die N$250 000 wat hy vir N 1 HB betaal het nie.

Die geld vir H 1 HB gaan direk aangewend word om ‘n informele mark in die informele nedersetting Omdel te bou. Hierdie hele aanbod en transaksie het vroeër vanjaar deel gevorm van ‘n besluit deur die dorpsraad waartydens vyf van die sewe raadslede “ja” gestem het.

“Daar was hierdie plan om die informele mark vir die minderbevoorregte gemeenskap te bou, en dat dit N$250 000 sou kos; geld wat die raad nie gehad het nie. Ek het aangebied om die hele projek te finansier as hulle die nommerplaat aan my verkoop,” het Boulter gesê.

Mnr. Lewies Vermaak, burgemeester van Hentiesbaai, het gesê die transaksie is ten bate van die gemeenskap en dat ‘n informele mark baie nodig is.

“Hier is baie informele handelaars wat daarvan afhanklik is om hul produkte te verkoop, maar daar is nie plek in die koue en nat weer nie, en hulle kan ook ‘n oorlas vir besighede wees. Nou sal mense weet hierdie is ’n plek waarheen hulle kan gaan om dié handelaars te ondersteun,” het hy verduidelik en bygevoeg die N$250 000 is reeds betaal en is gereed om vir die projek aangewend te word.

Volgens Boulter is die nommer wettiglik deur NaTis in sy naam oorgedra en reeds op sy motor gemonteer. Dieselfde nommer is ook nog op die burgemeester se motor. Dit sal die geval wees totdat die nuwe nommerplaat – die HB Mayor – uitgereik word, wat na verwagting binnekort sal wees.

Boulter het gesê hy hoop die transaksie sal ander dorpe aanmoedig om dieselfde te doen – om spesiale nommers te hou en dit teen ‘n goeie prys te verkoop en die geld vir gemeenskapsprojekte aan te wend, en nie vir private gebruik of salarisse nie.

“So iets behoort die gemeenskap te bevoordeel.”

Boonop het Boulter ook die voormalige adjunkminister van inligting- en kommunikasietegnologie, mnr. Engel Nawatiseb, se erf van 5 000 m² langs die see vir ‘n “handvol miljoene” gekoop. Hy beoog om ‘n vyfsterhotel met 50 kamers daar te bou en sê om vir homself ‘n privaat vakansiehuis te bou sal “selfsugtig” wees. Hy finansier ook die bou van ‘n ablusiegerief by die dorp se sokkerstadion.

Volgens mnr. Sifried //Garoeb, ’n lid van die dorpsraad, het Boulter ook aangebied om die raad in die toekoms met projekte by te staan.

“Hy is ‘n ernstige belegger wat bereid is om die raad se hand te vat wanneer dit kom by die ontwikkeling van die gemeenskap. Dit is ‘n betekenisvolle vennootskap, en ons wil ons verhouding met ons beleggers behou; nie hulle gebruik om onsself te bevoordeel nie,” het //Garoeb gesê en bygevoeg dat planne reeds aan die gang is om die informele mark te bou “omdat die geld nou beskikbaar is”.

Boulter (53) staan tereg op ‘n klag van moord nadat hy na bewering sy plaasbestuurder, mnr. Gerhard van Wyk, doodgeskiet het tydens ‘n woordewisseling (waarin Boulter ook in sy hand geskiet is) by sy eiendom in die Kamanjab-omgewing in Februarie verlede jaar. Hy het skuld ontken en is tans uit op borgtog.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!