WE NEED MORE: Lüderitz Waterfront Development Company CEO, Fluksman Samuehl. PHOTO: Contributed
WE NEED MORE: Lüderitz Waterfront Development Company CEO, Fluksman Samuehl. PHOTO: Contributed

Bykomende N$70 miljoen vir Nust se kampus gevra

Bouwerk het reeds in 2013 begin
Die universiteit en die ontwikkelingsmaatskappy is glo haaks met mekaar omdat die LWDC glo besonderhede oor dié projek weerhou.
Mathias Haufiku
Mathias Haufiku

Die Lüderitz Waterfront Development Company (LWDC) wil hê die regering moet ’n bykomende N$70 miljoen opdok vir die voltooiing van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se satellietkampus wat tans in Lüderitz gebou word – ’n projek wat belastingbetalers reeds N$145 miljoen gekos het.

Bouwerk aan dié projek het al in 2013 begin, en byna ’n dekade later staan die lesingsale steeds leeg.

Hierdie besonderhede is vervat in ’n konsepbrief vir finansiering vir Juniemaand wat deur LWDC saamgestel is en wat ons susterkoerant, Namibian Sun, onder oë gehad het.

Dié brief verskaf ’n opsomming van die status van die projek en die oorblywende werk wat voltooi moet word om die sperdatum (Maart 2023) te haal.

Kampusgeriewe sal fokus op gasvryheid, toerisme en mynbou, sowel as afstandskursusse vir die fakulteite bestuurswetenskappe, rekenaar- en informatika, geesteswetenskappe, ingenieurswese, gesondheid en toegepaste wetenskappe, natuurlike hulpbronne en ruimtelike wetenskappe.

Luidens die verslag sal N$7,8 miljoen uit die ­vereiste N$70 miljoen gebruik word om professio­nele fooie te vereffen.

Die grootste deel – N$23,4 miljoen – sal aangewend word om voorsiening te maak vir die voltooiing van die oorblywende fases van die eerste verdieping en boonste grondvlak van dié kompleks.

Die opgradering en opknapping van die ou kragstasie op Lüderitz, waar die kampus geleë sal wees, het in Junie 2013 met interne sloopwerk en daaropvolgende bouwerk begin.

Sodra dit voltooi is, sal die kompleks geriewe hê vir kantore en winkels wat aan openbare en private ­maatskappye, sowel as klein- en mediumgrootte ­ondernemings verhuur sal word.

WEERHOU GLO INLIGTING

Die verslag kom op ’n tydstip wat die universiteit en die LWDC haaks met mekaar oor dié projek is.

Namibian Sun het onlangs berig oor konflik tussen Nust en die ontwikkelingsmaatskappy omdat die universiteit beweer hy is in die duister oor dié projek se bedrywighede.

Die instelling het sedertdien na die ­ministerie van staatsondernemings ­uitgereik en hulle gevra om in te gryp en die ontwikkelingsfirma te dwing om sy boeke vir hulle te wys.

Met die nuwe kampus wat op LWDC se grond gebou word, beskuldig Nust sy verhuurder daarvan dat hy nie oop kaarte speel rondom die vordering van die projek sowel as die koste daarvan nie.

Na wat verneem word, wil Nust ook hê die eiendom moet in sy naam oorgedra word, ’n stap wat nie goed deur die ontwikkelingsfirma ontvang is nie.

Die universiteit wil verder ’n uitgebreide projekkosteverslag hê wat deur die bourekenaar voorberei is en wat die areaskedules en deelnamekwota – ge­baseer op die projek se finansieringstoekenning – aandui.

WINSGEWEND

Die kampus word op een van die mees gesogte stukke grond in dié hawedorp gebou. LWDC het die terrein van 1,4 hektaar – wat langs die strand geleë is – in 2011 by die regering vir N$1,3 miljoen gekoop.

In dokumente wat Namibian Sun onder oë gehad het, het Nust gesê hy was onsuksesvol in pogings om dokumente en inligting rakende die eienaarskap en verblyfreg van die waterfront-korporasie te bekom, en het daarna nie daarin geslaag om die ontwikkeling van sy Lüderitz-kampus te voltooi nie.

“Die huidige dooiepunt het die universiteit in die posisie geplaas waar hy moontlik belê het in eiendom wat deur ’n private maatskappy of individue besit word,” lui ’n brief gedateer 17 Augustus 2021.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!