Byna 300 onderteken griefskrif teen Ujams
‘Ek is moeg vir die vrot reuk’
Hoewel die klagskrif teen Ujams Sewage Works gebring is, val die aanleg onder die vaandel van die munisipaliteit van Windhoek.
“Sluit by ons aan om onmiddellike optrede te eis om te keer dat Ujams-rioolwerke rou riool in ons rivier stort. Teken hierdie klagskrif om ons gesondheid te beskerm, ons omgewing te bewaar en die lewensgehalte in Elisenheim te herstel!”
So lui ’n klagskrif wat onlangs teen Ujams Sewage Works van stapel gestuur is op grond van die bewering dat hulle rou riool in die Klein Windhoek-rivier naby die Elisenheim-landgoed, noord van Windhoek, stort.
Sowat 300 gegriefdes het reeds teen Dinsdagmiddag die dokument onderteken.
Dit is ’n aanlyn klagskrif op die webwerf change.org onder die opskrif “Stop Ujams Sewage Works from Polluting Our River”.
“Ons rivier is besoedel met stowwe wat die wild benadeel en die omgewing aftakel. Ons kan nie net toekyk terwyl dit aanhou om in ons agterplaas te gebeur nie,” lui klagskrif.
Dit volg nadat inwoners van die landgoed aan die begin van die maand gekla het oor die reuk van riool – ’n kwessie wat glo die afgelope jare voortdurend voorkom.
Le-Hugo van Rooyen, die uitvoerende hoof van Trustco Properties, het verlede week aan Republikein bevestig dat die reuk veroorsaak word deur die beweerde storting van riool deur die aanleg en gesê die kwessie is ’n geruime tyd gelede by die Windhoek-munisipaliteit aangemeld.
Luidens die klagskrif veroorsaak die rou riool in die rivier ’n onuithoudbare stank in en rondom die landgoed.
“Ek is moeg vir die vrot reuke wat hier rondhang. Dit is glad nie aangenaam om hier te wees nie,” het een van die inwoners gesê.
“Dis nie net ’n gesondheidsrisiko nie, maar is ook nadelig vir die omgewing. Die onbehandelde afval besoedel ons water, hou bedreigings in van wateroordraagbare siektes vir die gemeenskap en beskadig plaaslike ekosisteme,” lui die dokument.
MUNISIPALITEIT
Die munispaliteit van Windhoek het Ujams Sewage Works aangestel om die aanleg naby Elisenheim te bestuur.
Die woordvoerder van die munisipaliteit, Lydia Amutenya, het destyds erken dat die aanleg soms volumes riool ontvang wat die ontwerpkapasiteit oorskry.
“Dit kan lei tot die implementering van reënmodus-protokolle om die verhoogde vloei te bestuur,” het Amutenya gesê.
Volgens ingeligte bronne word rioolwater tydens dié proses in die rivier gestort en is die water nie volledig behandel nie. Dit is glo slegs deur die fyn siwwe en gruisverwydering behandel en hierdie gedeeltelik behandelde water word dan saam met die volledig behandelde water in die rivier afgevoer.
UJAMS
Republikein het ’n e-pos onder oë gehad wat die algemene bestuurder van Ujams Wastewater Treatment Company (UWTC), Thomas Honer, op 24 Mei vanjaar aan die munisipaliteit gestuur het.
Hierin verduidelik hy dat die munisipaliteit tydens die ontwerpfase van die aanleg besluit het om ’n “droëweerbuffertenk te bou en nie ’n natweerbuffertenk met meer bufferkapasiteit nie”.
Die besluit is glo geneem om koste te bespaar.
Volgens Honer ervaar die aanleg sedert November 2014 met tye kragonderbrekings, wat blykbaar net een van die verskeie uitdagings is wat die UWTC-span by die aanleg in die gesig staar.
“Die probleme met elektrisiteitstoevoer is verskeie kere genoem en uiteindelik is ’n deel van die toevoerkabel vervang en sedertdien is die krag- en toevoerprobleme uitgesorteer.
“Die oorsaak van hierdie probleem was buite die verantwoordelikheid van UWTC,” lui Honer se e-pos.
Hy verduidelik verder dat voorvalle in die verlede deur eksterne faktore veroorsaak is, en dit was buite die beheer van die span op die terrein.
Hierdie voorvalle het glo brand/smeul, storting van afval deur derde partye in die ou damme en ander kwessies ingesluit.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie