Chico nader hof om staking te beëindig

Saak hetvat op 23 Mei
Chico het 'n dringende aansoek ingedien in 'n poging om die beweerde onwettige staking van sy werknemers te beëindig sodat padwerke kan hervat.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Die China Henan International Cooperation Group (Chico) se dringende aansoek in die hoop om ’n interdik te bekom wat die staking van sy werknemers sal beëindig, is gister tot 23 Mei uitgestel.

Chico het op 17 Mei ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien om ’n interdik teen die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), die ekonomiese kommissaris van NEFF, mnr. Michael Amushelelo, en die Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu), te kry met die doel om Chico se werknemers – wat tans onwettig staak – te verbied om voort te gaan met die staking hangende die uitkoms van ’n klag wat die maatskappy by die arbeidskommissaris ingedien het.

Chico is tans besig met ’n padbouprojek op die B1 suid tussen Gochas en die afdraai na Tses. Die projek van N$530 miljoen is in November 2020 aan die maatskappy toegeken en moet na verwagting teen 2025 voltooi wees.

“Die applikant se bedrywighede het as gevolg van die staking heeltemal tot stilstand gekom en elke dag wat hierdie staking voortduur, verloor die applikant inkomste. Die daaglikse verlies beloop sowat N$370 000.

“Die applikant het ’n kontraktuele verpligting om die werk te voltooi en indien dit nie voltooi word nie, sal die applikant daaglikse boetes moet betaal,” lui die maatskappy se aansoek.

Chico het aansoek gedoen vir ’n tussentydse interdik op ’n dringende basis hangende die uitslag van die klagte wat hul reeds by die arbeidskommissaris ingedien het.

AGTERGROND

Chico het op 8 April ’n formele kennisgewing van Manwu, wat vroeër namens die werknemers opgetree het, ontvang wat die maatskappy in kennis gestel het dat die werkers op 12 April ’n vreedsame betoging sou hou. Die kennisgewing het aangedui ná die vreedsame betoging sou die werknemers ’n klagskrif aan Chico se bestuur oorhandig.

“Ek bevestig die werknemers het op Vrydag 12 April ’n vreedsame betoging gehou, en geen voorvalle van kommer het plaasgevind nie.”

“Ek is bewus daarvan dat ’n klagskrif oorhandig is nadat die vreedsame betoging tot ’n einde gekom het. Die werkersverteenwoordiger, onder die leiding van Manwu, het die klagskrif aan die projekbestuurder oorhandig,” het ’n bestuurslid van Chico, mnr. Cui Yunke, in die aansoek gesê.

Yunke het ook bevestig dat die maatskappy die werknemers se bekommernisse ernstig opgeneem het en teen 19 April glo breedvoerig op die klagskrif gereageer het.

Op 5 Mei het die werknemers na bewering sonder enige kennisgewing by die ingangshek na die kamp bymekaargekom en aangedui hulle gaan staak.

Die voorsitter van die Hardap-streekraad het die kamp besoek en glo die werknemers se eise aangehoor en probeer om die kwessies te bemiddel.

Hulle het nie die volgende twee dae – 6 en 7 Mei – teruggekeer werk toe nie en op 7 Mei het Chico na bewering ’n finale ultimatum gestel wat geëis het dat die werknemers die onwettige staking moet beëindig.

NIE ’n GEREGISTREERDE ­VAKBOND’

Manwu het aanvanklik die werknemers verteenwoordig, maar volgens die aansoek het dit later aan Chico duidelik geword dat NEFF die leiding geneem het.

Amushelelo het glo ’n paar Facebook-plasings aangaande die saak gemaak.

“Dit is duidelik dat die eerste respondent (Amushelelo) homself as die verteenwoordiger bestempel wat namens die werknemers praat rakende die voortslepende onwettige staking.

“Die staking is onwettig omdat dit nie aan enige reëls voldoen wat stakings reguleer nie. Die voortslepende onwettige staking is ’n direkte oortreding van die wet. Ek voer ook aan die tweede respondent (NEFF) is nie ’n geregistreerde vakbond nie,” lui die aansoek.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!