CoW hef tariewe te midde van teëstand

Stadsraad keur 5%-verhoging goed
Klagtes oor Stad Windhoek se rekeningpraktyke maak 'n draai by die Mededingingskommissie én in die hof.
Augetto Graig
’n Prysverhoging van 5% vir onder meer watertoevoer, riooldienste, afvalbestuur en munisipale tariewe en belastings, het reeds op 1 Oktober in werking getree.

Stad Windhoek (CoW) het dié prysaanpassing Dinsdag aangekondig en gesê die verhoging is vanaf 1 Oktober van toepassing; die datum waarop die kennisgewing in die Staatskoerant no. 8463 gepubliseer is. Dit nadat die stadsraad die prysverhoging reeds in Junie vanjaar goedgekeur het.

Nuwe heffings word ook voorgestel tot voordeel van brandweerdienste binne informele nedersettings (N$21,08) en rampvoorkomingsbystand (N$901,88 per uur). Die oortreding van erfgrense word ook nou beboet, tot N$490 per vierkante meter vir ’n groot oortreding, volgens die Staatskoerant.

Die vervanging van ’n watermeter sal nou 112,9% meer kos teen N$1 534,10, vergeleke met N$720,74 wat in die 2023-’24-boekjaar van toepassing was.



MEDEDINGINGSKOMMISSIE

Dié verwikkeling kom op die hakke van die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) wat Vrydag aangekondig het dat sy ondersoek na klagtes teen die Windhoek-munisipaliteit se rekeningpraktyke afgehandel is.

Volgens die uitvoerende hoof en sekretaris van die kommissie, Vitalis Ndalikokule, is voorstelle by die kommissie se raad ingedien en wag hy nou op die volgende NaCC-raadsvergadering in November.

Die NaCC het klagtes van verskeie inwoners, veral van Windhoek se Katutura-nedersettings, ondersoek wat by die kommissie ingedien is.

Die gemeenskapsaktivis Shaun Gariseb sê Windhoekers moet al hul rekeningstate as bewysstukke bewaar.

“Ons sal Stad Windhoek dagvaar vir die onwettige afsny van kragtoevoer, die verlies aan inkomste en onbillike boetes,” sê hy.



HOFSAKE

Sewe ontevrede Windhoek-inwoners dagvaar ook die hoofstad se munisipaliteit, saam met 29 ander respondente wat onder meer die burgemeester, verskeie raadslede, die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) en die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling insluit.

Elizabeth Beukes, Meriam Uiras, Pinehas Gaiseb, Eben Gomeb, Bernhard Murere, Dorothea /Nanus en Katrina Shivute bevraagteken skuld van honderde duisende dollars, die onredelike afsny van dienste en onreëlmatighede met betrekking tot die munisipale rekeningstelsel. Dié hofsaak gaan op Donderdag 24 November voort.

In ’n onverwante hofsaak het ’n oudonderwyseres Rachel Joseph (83) die munisipaliteit gedagvaar nadat die CoW verlede week haar dienste afgesny het.

“Ons [pensioenarisse] is uitgevang,” het sy buite die hof gesê, spesifiek oor skuldverligting wat die munisipaliteit pensioenarisse aangebied het.

Sy sê daarna word geen reëlings meer aanvaar om groot onverwagte maandelikse rekeninge af te kan betaal nie.

“Dit sal iets anders wees as ons nie wil betaal nie, maar hoe kan ek soveel in ’n maand betaal. Waar kry ons daardie geld,” vra sy.

Regter George Coleman het die munisipaliteit beveel om die watertoevoer na haar eiendom te herstel.

Windhoek se munisipaliteit het by navraag bevestig dat die stap om op volle betaling aan te dring, gedoen is om die verdere ophoop van pensioenarisskuld te vermy.

Tot dusver het sowat 3 800 pensioenarisse deelgeneem aan die veldtog om skuld af te skryf, wat steeds voortduur. Volgens die munisipaliteit skuld inwoners altesaam meer as ’n miljard dollar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!