Gemeenskapsleiers van Windhoek, Gobabis en Okahandja het verlede Dinsdag hul versoek om optrede teen gebrekkige munisipale rekeningstelsels onder die aandag van die adjunk-direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie, Erna van der Merwe, gebring. Foto Elizabeth Kheibes
Gemeenskapsleiers van Windhoek, Gobabis en Okahandja het verlede Dinsdag hul versoek om optrede teen gebrekkige munisipale rekeningstelsels onder die aandag van die adjunk-direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie, Erna van der Merwe, gebring. Foto Elizabeth Kheibes

CoW se rekeningstelsel onder vergrootglas

Siviele saak duur Donderdag in hoërhof voort
Stad Windhoek neem stappe om kragmeters reg te stel wat nie die werklike verbruik meet nie.
Augetto Graig
Die Windhoek-munisipaliteit se berekening en invordering van heffings vir water- en kragvoorsieningsdienste kom eerskomende Donderdag voor regter Hannelie Prinsloo in die hoërhof voor.

Die stadsraad en al die raadslede, die uitvoerende hoof, die hoof van finansies, die ouditeur-generaal, die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB), die registrateur van aktes, die meester van die hoërhof en die minister van stedelike en landelike ontwikkeling is as verweerders gelys.

Die verhoor is op 28 November tot vandeesweek uitgestel weens die agtste eiser Anna Januarie se aansoek om regshulp. Die direktoraat regshulp het Henry Shimutwikeni as haar regsverteenwoordiger aangestel. Shimutwikeni verteenwoordig ook vir Elizabeth Beukes.

Die res van die inwoners wat die hoërhof genader het, is Meriam Uiras, Pinehas Gaiseb, Eben Gomeb, Bernard Murere, Dorothea Nanus en Katrina Shivute.



AKTIVIS

Die gemeenskapsaktivis Shaun Gariseb doen ’n beroep op alle “slagoffers” van Stad Windhoek (CoW) se “gebrekkige rekeningstelsel" om Donderdag om 14:00 by die hof teenwoordig te wees, om hulp aan die eisers en hul regspan te verleen.

Hy meen die munisipaliteit beroof Windhoekers deur onreëlmatige heffings en dan word die inwoners aan onwettig aangestelde skuldinvorderaars oorhandig.

Hy verwys na ’n onlangse kennisgewing van die munisipaliteit wat glo as ’n skulderkenning dien.

Cow het verlede Woensdag gesê: “Ons pak kwessies aan met betrekking tot kragmeters wat geskatte verbruik [van krag] aandui as gevolg van die onvermoë om werklike meterlesings te verkry.”

Die kennisgewing lui verder: “Die nodige regstellings sal gemaak word om akkurate en gereelde meterlesings vorentoe te verseker.”

Gariseb sê: “Ons weet reeds hulle vra ons te veel, want selfs wanneer ons ons huise vir die hele Desember sluit, kom ons rekeninge uit asof daar mense in ’n leë huis bly.”

Hy noem ook die ECB se bevel dat voorafbetaalde kragtoevoer nie afgesny mag word nie, wat munisipale amptenare glo ignoreer.

Gariseb dring daarop aan dat die uitkoms van ’n ondersoek na Windhoek se munisipale rekeningstelsel bekend gemaak moet word en dat inwoners ingelig word oor hoeveel aan elkeen terugbetaal sal word.

Vandeesweek se siviele statusverhoor duur voort terwyl die Namibiese polisie besig is om ’n strafregtelike klagte te ondersoek.

Verlede jaar, toe Gariseb en ander Windhoekse inwoners ’n saak by die Namibiese polisie aanhangig gemaak het, het hy ’n beroep op mede-"slagoffers” gedoen om ook verklarings by hul naaste polisiekantoor te gaan aflê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer