Dagsorg op Lüderitz kry eersdaags nuwe baadjie

Otis Daniels
’n Inisiatief tussen die dorpe Leipzig in Duitsland en Lüderitz sal sien hoe ’n bekende Duitse kunstenaar ’n dagsorgsentrum in dié Namibiese hawedorp in ’n kunswerk omskep.

“Ons kan nie ons opgewondenheid beteuel om gasheer vir Michael Fischer-Art vanaf 5 tot 10 Februarie te speel nie.

“Die projek sal almal se aandag aangryp soos daar lewe daarin geblaas word. Dis ’n reusevoorreg vir ons dorpie, die gemeenskap en ons is dankbaar dat ons oorweeg is,” het die burgemeester van Lüderitz, Phil Balhao, gesê.

Michael, wat in Leipzig gebore is, sal tydens sy besoek sy stempel op die Peek-a-book-dagsorgsentrum afdruk met sy unieke en kleurvolle kunswerk.

Balhao het Kai-Uwe Döhler, die dryfveer agter vennootskappe van Better Berlin (Leipzig) vir sy moeite en ondersteuning teenoor Lüderitz bedank.



PROJEK IN DUITSLAND

Michael het op 6 Januarie met ’n projek by ’n kinderhuis in Grünau in Berlyn begin en hy het leë, wit mure in kleurvolle kunswerke omskep wat die kinders ’n nuwe perspektief gee.

“Dit is altyd opwindend om te werk waar alles baie wit is aan die begin. Dis presies waar die storie nodig is,” het Michael gesê.



OOR DIE KUNSTENAAR

Byna geen ander kunstenaar in die wêreld het al op soveel verskillende oppervlaktes soos Michael (Zeit, 2011) geverf nie.

Hy omskep ook onder meer brûe en speelgronde in kleurvolle kunswerke.

Hy is 'n multidissiplinêre kunstenaar wie se skilderye in solo-uitstallings in verskeie galerye in en om Duitsland vertoon is.

Sy artistieke uitdrukking word deur popkuns en fotorealisme geïnspireer.

Michael verkies metaal, vlekvrye staal en aluminium in sy grootskaalse beeldhouwerke en hy skilder meestal met akrielverf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer