Desperate inwoners beskadig waterpype

Geen drinkwater sedert September 2023
'n Woordvoerder van die betrokke groep op Rundu het sy kommer uitgespreek oor higiëniese toestande as gevolg van die langdurige watertekort.
Nikanor Nangolo
Inwoners van Ndama se informele nedersettings Sun City- en Long to Long op Rundu sê hulle het sedert September verlede jaar geen drinkbare water nie.

Dit het hulle daartoe gedryf om waterpype te sny in ’n desperate poging om toegang te verkry tot wat ’n skaars kommoditeit op dié dorp geword het.

Talle inwoners word gedwing om lang afstande af te lê om water te gaan haal en moet dikwels gevaarlike situasies in die gesig staar, veral in die nag wanneer hulle misdadigers kan teëkom.

Die woordvoerder van die betrokke groep, David Nekaro, het Dinsdag tydens ’n mediakonferensie in Ndama gesê “daar was laas in September 2023 water in die krane”.

“Ondanks verskeie pogings om die [Rundu-dorpsraad] te betrek, was dit tevergeefs.

“Die bestuur het geweier om met die verantwoordelike komitee te vergader of selfs na die gemeenskappe te kom om met die mense in gesprek te tree. In plaas daarvan het die raad gekies om met uitgesoekte individue te vergader vir publisiteitsdoeleindes, terwyl die geraakte mense en hul verteenwoordigers opsy geskuif is,” het hy gesê.

Nekaro het bygevoeg die waterkrisis is nie net weens tegniese redes nie, maar ook politieke agendas.

“Rundu het ’n klein dam en verouderde materiaal en gereedskap, wat lei tot ’n onvermoë om water aan alle inwoners te verskaf.

“Gevolglik het hulle besluit om die mense in informele nedersettings op te offer deur die pype te ontkoppel en diegene nader aan die sentrale sakegebied te prioritiseer,” hy het gesê.

KOMMER OOR GESONDHEID

Nekaro het ook sy kommer uitgespreek oor higiëniese toestande as gevolg van die langdurige watertekort.

“Ons het bejaardes, siek mense en skoolgaande kinders wat nie elke dag water het om te bad, te kook of te drink nie.

“Mense stap lang afstande om water by hoofpype te gaan haal, wat hul veiligheid in gedrang bring, veral in die nag,” het hy gesê

Hy het bygevoeg dat die raad fooie aan inwoners hef vir water waartoe hulle nie toegang het nie.

“Mense ontvang elke maand boodskappe wat betaling eis en dreig om dienste te ontkoppel of te beëindig as hulle nie betaal nie,” het Nekaro gesê.

Kauno Hamutenya, ’n inwoner van Ndama, het gesê sy gemeenskap worstel steeds met waterkwessies weens die dorpsraad se swak bestuur.

“Hulle het die dorp se infrastruktuur, insluitend water, paaie en elektrisiteit, afgeskeep. Baie van die raadslede het vergeet dat hulle ook aktiviste was wat vir dieselfde kwessies geveg het wat ons vandag in die gesig staar.

“Noudat hulle raadslede geword het, is die mense se probleme nie meer belangrik nie. Ons doen ’n beroep op die minister van stedelike en landelike ontwikkeling om dringend in te gryp en die waterkrisis in Ndama te takel, aangesien die Rundu-dorpsraad nie daarin geslaag het om ons te help nie,” het Hamutenya gesê.

‘ONS LY’

’n Inwoner van Long to Long, Martina Kangoro, het gesê sy stap elke dag om water by ’n privaat skool in Sun City te gaan haal.

“Die waterkrisis in Ndama het my en ander gedwing om soms hier te slaap, en omdat ons weg van ons huise slaap, het misdadigers probeer om ons te verkrag. Soms word ons gedwing om te slaap sonder om te eet weens die gebrek aan water,” het sy gesê.

“Ons kinders gaan skool toe sonder om behoorlik te bad en met vuil klere. Ons doen ’n beroep op die dorp se leierskap om ’n dam te bou of ’n boorgat in die geraakte nedersettings te boor.

“Ten spyte daarvan dat ons vir ons water betaal, ly ons honger en bly vuil,” het sy bygevoeg.

EISE

“Ons het besluit om die raad deur hierdie platform in kennis te stel dat ons gemeenskappe op Dinsdag 4 Junie gaan betoog, sou hulle nie dadelik water aan ons voorsien nie,” het Nekaro gesê.

“Ons eis dat die raad binne sewe werksdae ’n onmiddellike oplossing vir die waterkrisis verskaf, alle uitstaande skuld kanselleer wat met water verband hou en al die geld wat die mense sedert September 2023 vir waterdienste betaal het, terugbetaal,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!