Deur wyd oop vir toeriste
Regering verslap Covid-maatreëls
Erkenning van 'n inentingskaart pleks van 'n negatiewe Covid-toets met aankoms in die land, sorg vir vreugdevure in die toerismebedryf.
Henriette Lamprecht
en Ronelle Rademeyer
“Die nuus kon nie op ’n beter tyd gekom het nie!”
Só het ’n verheugde me. Gitta Paetzold, uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), gister reageer op die aankondiging dat ten volle ingeënte besoekers aan Namibië van vandag af nie meer ’n negatiewe PCR-toetsuitslag met aankoms hoef te toon nie.
Besoekers moet wel oor ’n geldige inentingsertifikaat beskik. Dié wat nie ingeënt is nie, moet steeds ’n negatiewe PCR-toetsuitslag toon van ’n gesertifiseerde laboratorium nie ouer as 72 uur vandat die weefselmonster geneem is nie.
Dit is welkome nuus vir die land se toerismebedryf wat die afgelope twee jaar gesteier het onder inperkings en wat volgens pres. Hage Geingob steeds ’n resessie beleef.
Die staatshoof het gister tydens die aankondiging van die nuwe Covid-19-regulasies gesê die aantal besoekers uit die buiteland is steeds net ’n derde van wat dit voor die aanvang van die pandemie was.
Volgens Paetzold wag die bedryf “al maande op hierdie aankondiging”.
Sy sê hulle sou graag wou hê dit moes al vanaf Februarie die geval gewees het, maar voeg by dit toon ook die regering doen eers deeglik sy huiswerk.
Volgens haar “kan dit nie op ’n beter tyd kom nie.”
“Ons sukkel nou al om van Julie tot September genoeg voertuie vir verhuring beskikbaar te hê. Daar is baie groot belangstelling in Namibië.”
Sy sê die bedryf is wel bekommerd oor die oorlog in die Oekraïne en die spanning tussen die Weste en Rusland, aangesien dit opnuut ’n negatiewe impak op toerisme kan hê.
Sy het verwys na die moontlikheid van veel duurder brandstof en sê dit is onduidelik hoe dit lugvaart gaan beïnvloed.
VAN PANDEMIE NA ENDEMIE
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het Covid-19 intussen van ’n pandemiese siekte na ’n endemiese siekte herklassifiseer.
Die WHO het gesê hy gebruik nie meer die term “pandemie” nie, maar die Covid-19-uitbreking bly “’n internasionale noodgeval wat waarskynlik verder sal versprei”, het Reuters op 24 Februarie berig.
DRA VAN MASKERS
Namibiërs kan ook twee jaar nadat die eerste positiewe geval op 13 Maart 2020 in die land aangemeld is en die staatshoof vier dae later ’n noodtoestand afgekondig het, hul maskers groet.
Dit is nie meer verpligtend by openbare plekke in die buitelug nie.
Mense wat in klein ruimtes saamgehok is, soos die passasiers en bestuurders van busse en taxi’s, binnenshuise vergaderings waar sommige nie ingeënt is nie en ander soortgelyke omstandighede, word aangemoedig om steeds maskers te dra.
Fisiese afstand van nie minder as ’n meter nie, moet te alle tye gehandhaaf word.
’n Duisend mense kan ingevolge die nuwe maatreël voortaan openbare byeenkomste bywoon, wat van troues en begrafnisse tot sportbyeenkomste insluit.
Hoewel die publiek en besoekers nou aansienlik meer vryheid geniet as ’n jaar of wat gelede, het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, gemaan dit kan weer verander sou die situasie in die land versleg. Dis is egter nie iets wat nie tans verwag word nie.
Alle skole gaan voort met klaskameronderrig, met leerlinge wat aangemoedig word om steeds maskers in klasse te dra. Shangula sê eienaars van onder meer restaurante, kroeë, sjebiens en haarsalonne moet verseker hulle personeel dra steeds maskers en handhaaf sosiale afstand. Dit is volgens die minister ook die plig van die kliënt om aan te dring dat van kelners tot haarkappers steeds maskers dra, omdat hulle in noue kontak met mekaar is.
Geen onderskeid word volgens Shangula ook meer getref tussen die hantering van die oorskot van ’n iemand wat aan Covid-19 dood is en dié wat weens ander oorsake dood is nie en in beide gevalle kan oorledenes in dieselfde begraafplaas begrawe word.
Alle voorkomings-en infeksieprotokol moet egter steeds streng toegepas word.
Shangula het groepe in die sosiale media wat teen inenting gekant is, uitgesonder en gemaan hulle doen “meer skade as goed aan ons samelewing.”
“Hulle moet ophou met hul onpatriotiese en gevaarlike speletjies.”
Hy het Namibiërs se huiwering om hulle te laat inent, voor dié antivaksers se deur geplaas.
Tans is net 21,2% van mense ten volle ingeënt en is die daaglikse inentingskoers “teleurstellend laag” op ’n gemiddeld van 472 vir die eerste dosis en 154 vir die tweede dosis.
Namibië het vanaf 18 Februarie 168 000 dosisse Johnson & Johnson, 19 890 dosisse Pfizer en 60 000 dosisse AstraZeneca ontvang. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie