Diensskuld knyp Henties se inwoners

Skuld belemmer dienslewering
Die feit dat sommige inwoners nie betaal nie, maak dienslewering aan almal moeilik.
Adam Hartman
Die afgelope boekjaar se diensteskuld van N$58 miljoen wat die regering en sy inwoners aan die Hentiesbaai-munisipaliteit verskuldig is vir "gratis water" en ander dienste, se rimpeleffek raak al die dorp se inwoners.

Die dorp het 'n rioolstelsel gehad wat relatief goed gewerk het en behels dat afval by die verskillende huise in tenks invloei, waarna 'n vullisvragmotor soms hierdie afval uitpomp en dan in 'n aangewese munisipale area daarmee wegdoen. Inwoners het Erongo 24/7 meegedeel dat hierdie stelsel die afgelope tyd nie so goed werk nie; dat die vragmotors stukkend is en die dienste nie betyds gelewer word nie, of aan 'n duurder privaat operateur oorgelaat word. “Ek moet lank wag en my tenks loop amper oor,” het een inwoner gesê. Nog een het gedreig om sy eie mobiele kragopwekkerpompstelsel aan te bring en die afval in die strate uit te pomp. "Waarheen anders moet dit gaan as hulle dit nie kom haal nie?" het hy gevra.

Volgens die beswaarde inwoners sukkel die munisipaliteit as gevolg van stukkende vragmotors, verouderde infrastruktuur en 'n dorp wat uitbrei. “Dit is swak bestuur. Dit is belangrik dat die geriewe in plek is om voorsiening te maak vir die groeiende inwonersgetal, maar ook om gereed te wees vir vakansiegangers wat hierheen stroom,” het 'n pensioenaris gesê en bygevoeg hy betaal steeds tariewe en belasting, wat rioolverwydering insluit.

Lewies Vermaak, die burgemeester van Hentiesbaai, het by navraag gesê dit is waar dat daar meer druk op dienslewering en stelsels is, veral met vakansiedae soos die afgelope Paas-langnaweek, maar dat die munisipaliteit alles in sy vermoë doen met die hulpbronne wat beskikbaar is. Volgens hom het die afvalverwyderingstelsel gewerk. Die probleem is egter dat daar inwoners is wat wag dat die afval by hul huise amper oorloop, en dan onmiddellike optrede deur die munisipaliteit eis.

Volgens hom is daar twee vragmotors (een is stukkend), en 'n private een wat inwoners kan huur indien nodig, maar dit is egter belangrik dat inwoners betyds reël dat hul afvaltenks leeggepomp word “Hulle word op 'n lys geplaas en die vragmotors sal dienooreenkomstig verbykom. Ek moet dit ook doen. As ek nommer 14 op die lys is, moet ek my beurt afwag,” het Vermaak gesê. Die burgemeester het diegene wat onmiddellike aandag eis wanneer dit amper te laat is, berispe: “Is dit reverdigg om in die lyn te wil kom indruk teenoor diegene wat die pomp van hul tenks betyds gereël het? Ek dink nie dit is regverdig nie.”

Hy het gesê die munisipaliteit oorweeg om 'n nuwe vragmotor aan te koop om die diens te bespoedig terwyl daar ook vooruitsigte in die stadsbeplanningskema is vir die opgradering van 'n rioolstelsel – maar dit alles kos geld, waarvoor begroot moet word. “N$58 miljoen se uitstaande skuld is geen grap nie – veral as dit is vir dienste wat ons reeds gelewer het. Sou die geld vir ons dienste inkom, sal ons vir verbeterings en ontwikkeling kan begroot, en sal ons nie sulke probleme hê nie en dienste beter kan lewer.”

Vermaak het ook daarop gewys dat dit nie altyd die munisipaliteit is wat skuldig is nie en gesê hy kan nie sy mandaat nakom as sy hande afgekap word omdat mense versuim om vir dienste betaal nie. “En die hartseerste van alles, is dat dié wat wel betaal ook nou die knyp van die uitstaande skuld voel,” het hy gesê en bygevoeg die dorp oorweeg om 'n skuldinvorderaar in te bring.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!