Droom geknou, nie verpletter
Tanja Bause
Die Brit Alex Lewis het ’n droom gehad om 500 km met sy son- en battery-aangedrewe vierwielfiets op Namibiese grondpaaie te ry.
Studente van die South Hampton-universiteit in Engeland het die fiets spesiaal vir Namibiese toestande ontwerp en gebou.
Lewis, die man agter die droom, is ’n viervoudige geamputeerde.
Hy het in 2013 toe hy 33 jaar oud was, verkoue gekry en nie veel daaroor gedink nie. Binne ’n maand het hy egter beide sy bene en linkerarm weens toksiese skoksindroom (TSS) verloor.
Ses maande later het hy sy regterarm gebreek en moes dié arm ook geamputeer word.
Die Namibiese fiets het groter wiele, langer batterylewe en is spesiaal vir ’n viervoudige geamputeerde ontwerp.
“Ons het die fiets verpak en in April op ’n skip gesit en Walvisbaai toe gestuur. Dit was veronderstel om 26 Junie daar aan te kom, maar weens die ongelooflike sterk ooswinde kon die skip nie in die hawe anker nie. Dit het toe Durban toe gevaar en is tans daar in die hawe. Ons het besluit om dit terug Engeland toe te stuur want die fiets sou eers ná ons twee weke in Namibië in Walvisbaai aankom.”
Een van sy spanmaats het sy vlug verpas en twee het Covid-19 opgedoen. Drie spanmaats sal na verwagting môre by die res van die span aansluit.
“My droom van 500 km op die spesiaal geboude fiets lê nou aan flarde, want nou gaan ek net met my rolstoel – waaraan nog ’n wiel vasgemaak is – ry.”
“Dit is baie kleiner, meer onstabiel, die batterye is kleiner en waar ons aanvanklik 50 km per dag wou aflê, weet ek nie hoeveel ek nou kan doen nie. Waarmee ek nou ry, is nie ontwerp om in die woestyn of op grondpaaie te ry nie. Dit is ’n groot uitdaging, maar dit het ’n battery en ek sal my bes doen.
“My span wat my op hulle fietse begelei, sal die volle 500 km ry, maar ek sal baie van die afstand in ’n voertuig sit. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie; ek kan steeds Namibië ervaar en sien. Ek wou dit graag op my fiets gedoen het, maar ek is bevoorreg om hier te wees.
“Ek wil plekke toe gaan waar ’n viervoudige geamputeerde nog nooit was nie. Ek wil goed doen wat uniek is, om te wys dat alles nog steeds moontlik is al het jy nie bene en arms nie. As ek nie die skoksindroom gekry het nie sou ek nog steeds in ’n kroeg gesit en net bestaan het, eerder as om te lewe.”
Die span sal vandag Solitaire toe ry en van môre af na Brandberg vertrek. Hulle sal op 14 Julie by die Brandberg White Lady Lodge wees en die dag daarna by Madisa Camp.
Op 17 Julie sal hulle by Kaap Kruis oornag en dan vir die volgende twee dae sal hulle in Swakopmund deurbring voordat hulle terug Engeland toe sal vlieg.
“Ek nooi almal uit wat na die fiets en tegnologie wil kyk om te kom groet. As julle net oor gestremdheid, die uitdagings en moontlikhede wil kom gesels, is julle ook welkom. Kom ons gesels en ruil idees uit oor hoe om tegnologie en toerusting wat mense met gestremdhede benodig, makliker bekombaar en bekostigbaar te maak.”
Belangstellendes word op 19 Julie om 15:00 na die Otto Günther-binnehof genooi om Lewis te ontmoet en na ’n kort fliek van sy eerste fietstoer na Ethiopië te kyk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie