ECN

Tot 11:00 vandag om gewysigde aansoeke in te dien
Altesaam 15 partybenoemings sal in November om die presidentskap meeding.
Augetto Graig
Die drie oorblywende onafhanklike kandidate se aansoeke is gister afgekeur om in die komende presidensiële verkiesing te staan.

Die voorsitter van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) , dr. Elsie Nghikembua, het egter ­aangekondig dat hulle tot vandag om 11:00 nog die geleentheid het om tekortkominge in hul ­aansoeke reg te stel.

Sy wou nie gister oor die ­te­kort­­kominge uitbrei nie, maar het bevestig dat die drie aansoeke ­verskillende probleme gehad het en die onafhanklike kandidate skriftelik in kennis gestel is, en nog tot vanoggend die geleentheid het om hul aansoeke te wysig.

“Ingevolge afdeling 75(3) van die kieswet het ek die nominasies van Elsie Chen, Jeremia Kaambo en Ally Angula as kandidate afgekeur.

“Die kandidate is skriftelik van hierdie besluit ingelig en ook die gronde daarvoor. In ooreenstemming met artikel 75(3)b kondig ek hiermee die verlenging van hierdie openbare vergadering aan vir die aankondiging van kandidate wat genomineer is vir die verkiesing as president.

“Die verlenging word toegestaan ​​om geregistreerde politieke partye of persone wat nominasies ingedien het die geleentheid te gee om enige afgekeurde nominasies reg te stel, of om ’n ander kandidaat te nomineer,” het die voorsitter aangekondig.

Geen nominasies wat namens ­politieke partye ingedien is, is egter verwerp nie.

Die name van die kandidate wat spesifieke politieke partye in die komende presidensiële verkiesing gaan verteenwoordig, sal eers na die verlenging tot elfuur vandag amptelik bekend gemaak word.

Tot dusver is dit bekend dat nomi­nasies vir 15 politieke partye aanvaar is om aan die presidensiële verkiesing deel te neem.

Die partye wat in die presidensiele ­verkiesing verteenwoordig sal word, sluit in die Action ­Democratic Movement, die Affirmative Repositioning (AR), die All People’s Party (APP) en die Body of Christ Party.

Kandidate sal ook meeding namens die Congress of Democrats (CoD), die Independent Patriots for Change (IPC), die Landless People’s Movement (LPM) en die Namibia Economic Freedom ­Fighters (NEFF).

Verder het die Popular ­Democratic Movement (PDM), die Rally for ­Democracy and Progress (RDP), die Republican Party (RP), Swanu, Swapo, die United Democratic Front (UDF) en die United Namibians Party ook goedgekeurde kandidate wat vir die land se topleierskapposisie in ­November sal meeding.Politieke partye wat sal meeding in die parlementêre verkiesing, wat terselfdertyd gehou sal word, maar nie in die presidensiële verkiesing nie, sluit in die National Democratic Party (NDP), die National Empowerment Fighting Corruption, die National Patriotic Front of Namibia, die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die United People’s Movement (UPM).

Angula was die enigste onafhanklike kandidaat wat by die aankondiging teenwoordig was en sy was tevrede dat die spertyd uitgestel is.

Sy sê sy het nie geweet dat ’n tweede geleentheid gebied sou word nie.

In haar geval was die ECN se nuwe stelsel, waar sy al die besonderhede van die 500 ondertekenaars per streek, 7 000 in totaal, wat haar nominasie ondersteun, moes oplaai, die oorsaak dat haar aansoek afgekeur is.

“Ons is dankbaar vir die geleentheid om die aansoeke weer te kan indien. Die tekortkoming is deur die nuwe ECN-stelsel veroorsaak.

“Ons weet dat ons môre aangekondig sal word as ’n onafhanklike kandidaat vir die verkiesing.

“Ek wil net al die eer aan die Here gee vir hierdie uitweg waar daar blykbaar geen uitkoms was nie. Ons is so gelukkig met hierdie uitslag, baie, baie gelukkig,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!