EU wil gespanne bande met Afrika herbou

Vasteland sal baat by nuwe beleggingsbloudruk
Die sesde EU-AU-beraad van leiers uit Europa en Afrika het verlede week plaasgevind.
Leiers van die Europese Unie (EU) en Afrika het Donderdag en Vrydag in Brussel, België, vergader vir ’n tweedaagse beraad waartydens gepoog is om bande te herbou deur beloftes van groot belegging in die lig van mededinging van China en Rusland.

Betrekkinge met lande in die Afrika-unie (AU) is bemoeilik deur ’n reeks probleme: van geskille oor Covid-19-entstofvoorrade, tot die bekamping van onwettige migrasie, ’n vlaag van staatsgrepe in Afrika, en die groeiende invloed van Russiese huursoldate op die vasteland.

“Ons gemeenskaplike ambisie, Afrikane en Europeërs, vir hierdie beraad is om ’n hernude, gemoderniseerde en meer aksie-georiënteerde vennootskap te bereik,” het Senegal se president Macky Sall gesê. Hy is tans ook die voorsitter van die AU.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk, wat die EU se roterende presidentskap beklee, het gesê hy hoop die eerste gesamentlike beraad sedert 2017 slaag daarin om ’n “nuwe ekonomiese en finansiële ooreenkoms met Afrika” te bewerkstellig.

Die EU het hom daarop toegespits om die 40 Afrika-leiers in Brussel te oortuig dat Europa hul “betroubaarste vennoot” is deur ’n beleggingsinisiatief uit te voer wat daarop gemik is om 150 miljard euro (US$170 miljard, N$2 555 miljard) se openbare en private fondse oor die volgende sewe jaar te mobiliseer.

Dié skema is die eerste toedeling van die EU se “Global Gateway” – ’n wêreldwye beleggingsbloudruk van 300 miljard euro wat daarop gemik is om mee te ding met China se sogenaamde “Belt and Road”-inisiatief.

Die EU kyk aanvanklik na 12 ambisieuse projekte om internettoegang, vervoernetwerke en hernubare energie te versterk, en poog daarmee om ’n alternatief tot goedkoop lenings deur Beijing aan Afrikalande te bied.

Besonderhede oor hierdie finansiering bly vaag, en die projekte moet nog met Afrika ooreengekom word.

Afrika-leiers wil hê die EU moet die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) eerder so ver kry om lande op die vasteland verder finansieel te ondersteun.

Die beraad het plaasgevind teen die agtergrond van ’n vlaag van militêre staatsgrepe in Afrika. Burkina Faso het verlede maand by Guinee, Mali en Soedan aangesluit as die vierde land waar ontevrede soldate die verkose president omver gewerp het.

Dié vier lande was nie in Brussel verteenwoordig nie.

Terwyl Europa worstel met vrese vir ’n Russiese inval in die Oekraïne, heers kommer oor die toenemende invloed van Russiese huursoldate in sommige van Afrika se mees wisselvallige konflikgebiede.

Die stryd teen die Covid-19-pandemie was ook ’n belangrike onderwerp by die beraad. Afrika-leiers was openlik krities oor wat hulle beskou as die onregverdige verspreiding van entstowwe wêreldwyd, wat die vasteland klaaglik aan die agterspeen laat suig het.

Suid-Afrika se Cyril Ramaphosa het die Weste daarvan beskuldig dat hulle Afrika net die “krummels van hul tafel” gee nadat die EU ’n poging afgeskiet het om ’n tydelike patentkwytskelding toe te laat sodat die generiese produksie van entstowwe kan plaasvind.

Die EU, as die wêreld se grootste entstofuitvoerder, wys daarop dat hy meer as 400 miljoen dosisse tot die wêreldwye Covax-entstofinisiatief bygedra het en beloof om teen die middel van 2022 ’n verdere 450 miljoen dosisse entstof aan Afrika beskikbaar te stel.

Die EU sê hy sal finansiering verhoog om gesondheidstelsels op die vasteland te help om mense ingeënt te kry, en het 1 miljard euro belowe om toekomstige entstofproduksie in Afrika te versterk.

– Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!