Fliekgangers ontevrede met Ster Kinekor
Ondervind lang rye en kansellasies
Die bestuurder van Windhoek se Ster Kinekor-takke het die koerant verseker dat hulle daaraan werk om verskeie kwessies op te los.
Met die onlangse vrystelling van flieks soos Barbie, Oppenheimer en die nuutste Mission Impossible, is sommige fliekliefhebbers ontevrede met Ster Kinekor in Windhoek se diens, lang rye en kansellasie van flieks. Ster Kinekor se bestuur verseker wel dat hulle besig is om oplossing te oorweeg.
’n Inwoner van Windhoek het aan Republikein gesê hulle wou twee weke gelede die gewilde Barbie-fliek gaan kyk, maar weens lank rye het hulle die begin van die fliek gemis.
“Ons was reeds 19:15 daar vir die 20:00-vertoning, toe staan die ry al amper by die trappe af. Die ry het nie beweeg nie. Teen 19:55 het ek die bestuurder gevra of die fliek later gaan begin, want almal staan nog buite.
“Haar antwoord was die fliek begin wanneer dit begin. Ek sê toe dis onregverdig, want volgens my vriendin wat binne sit, is daar omtrent net 10 mense in die lokaal. Sy sê toe dit is nie haar probleem nie en ons is welkom om te loop soos die ander mense.”
Ander bronne het aan Republikein gesê hulle dink die rye is lank aangesien daar net een toonbank is vir verversings en kaartjieverkope. In die verlede was dit twee aparte toonbanke.
“Ek gaan fliek nogal gereeld. Die belaglikste ding is dat jy jou kaartjies en snacks nou by dieselfde toonbank moet koop wat maak dat daar een hengse lang ry is en maak dat mens soms nie betyds is vir jou fliek nie.”
“Almal moet hul kaartjies by die popcorn-stasie koop. Daar was letterlik net een persoon. Dit was skrikwekkend,” het ’n ander fliekganger gesê.
Volgens Ster Kinekor se plaaslike bestuurder, Jenni Beukes, is die vermindering na een toonbank weens ’n probleem met sommige van die toerusting wat “nie meer voldoende presteer nie” ná ’n stelselopdatering.
“Wees gerus dat ons reeds besig is om oplossings te oorweeg en met ons franchise-verskaffers te onderhandel,” het sy bygevoeg.
KANSELLASIE VAN FLIEKS
Sondagaand (19:00) se vertoning van die fliek Oppenheimer by Maerua Mall is onverwags gekanselleer nadat fliekgangers reeds byna 30 minute in die lokaal gewag het. Die fliekgangers se kaartjies is terugbetaal en hulle is huis toe gestuur.
“Ons het ’n onvoorsiene tegniese probleem ondervind. Ons span het vinnig gereageer, maar ongelukkig kon die probleem nie onmiddellik opgelos word nie. As gevolg hiervan is fliekgangers daaroor ingelig en verskillende opsies is aan hulle voorgestel.”
Dit is wel volgens ’n ander Windhoeker, nie die eerste keer wat so iets by Maerua Mall se tak gebeur nie.
“Ons het vroeër die jaar ons hele naweek beplan om Avatar by Maerua te gaan kyk. Toe ons daar kom toe sê hulle die fliek gaan nie meer wys nie, want iets is fout met die klank. Die fliek is dus gekanselleer sonder enige kennisgewing op hulle sosialemediaplatforms.”
BRUIN PAPIERSAKKIES
Die Ster Kinekor-takke in Windhoek maak ook die afgelope paar jaar gebruik van bruin papiersakkies om springmielies in te verkoop en nie meer die kartonhouers wat hulle in die verlede gebruik het nie.
“Tydens die Covid-19-pandemie het ons besluit om oor te skakel na papiersakke vir ons popcorn, sonder die handelsnaam, om kostes te minimaliseer,” sê Beukes.
Ander fliekgangers het kommentaar gelewer oor die min personeel en is van mening dat personeel “nie lus lyk nie”.
“Die hele ervaring is net anders, so asof hulle eintlik nie meer lus is nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie