Geen (nuwe) kode, geen eis
Berging, herwinning en ontleding van mediese data gereguleer
Verskaffers van gesondheidsdienste is deur die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse opdrag gegee om die ICD-10-stelsel te implementeer vir die verwerking en uitbetaling van eise.
Henriette Lamprecht
Die eerste fase van ’n wêreldwye en verpligte koderingstruktuur vir onder meer die diagnose en bestuur van siektes het in Namibië afgeskop.
Vanaf 1 Januarie aanstaande jaar móét alle verskaffers van gesondheidsdienste in die land die ICD-10-koderingstruktuur vir eise gebruik. Laasgenoemde word gebruik om die diagnose van siektes en ander gesondheidsinligting in ’n alfanumeriese kode te verander en wat die berging, herwinning en ontleding van die data moontlik maak. ’n Wetgewende dokument om die ICD-10 se gebruik te verplig, moet egter nog opgestel word.
Verskaffers van gesondheidsdienste in die land is vroeër deur die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse (Namaf) opdrag gegee om die stelsel te implementeer, alvorens hul eise verwerk en uitbetaal sal word.
Die implementering en bestuur van die stelsel is vir verskaffers se eie tyd en beursie.
Namaf se woordvoerder, me. Uatavi Mbai, het by navraag gesê die gebruik van ICD-10 is aanvanklik nié verpligtend nie, maar verskaffers word aangeraai om dit wel te begin gebruik om enige stelselontwikkelingsvereistes vir beide verskaffers en fondse te bepaal. Namaf-datavelde en data-aanpassings, bykomende opleidingsvereistes en ook spesifieke kwessies en uitdagings moet ook tydens die eerste fase bepaal word.
BEWUSTHEID TE SKEP
Dié fase word ook gebruik vir die bedryf om op hoogte van die gebruik van ICD-10 te kom en bewustheid te skep, terwyl ’n verslag ontwikkel sal word oor die gebruik van die stelsel, sowel as die kwaliteit van die kodes wat ingedien en gebruik word.
Mbai sê die skep van ’n wetgewende instrument om ICD-10 verpligtend vir alle verskaffers te maak, sowel as opleiding, vorm ook deel van die eerste fase.
Die Internasionale Statistiese Klassifikasie van Siektes en Verwante Gesondheidsprobleme (ICD), wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ontwikkel is, is die internasionale standaard vir die fasilitering en organisering van die kommunikasie aangaande die diagnoses van pasiënte se toestand. Volgens haar is dit ’n wêreldwye diagnostiese hulpmiddel vir epidemiologie, gesondheidsbestuur en kliniese doeleindes.
“ICD verbeter openbare gesondheidstoesig en bepaal die siekte se las, wat befondsers in staat stel om die korrekte voordele te identifiseer waaruit mediese dienste vergoed kan word. Dit word vereis om alternatiewe vergoedingsmodelle te ontwikkel en te implementeer en word ook as ’n kliniese risiko-instrument gebruik om vermorsing en misbruik te bestuur,” het Mbai verduidelik.
Teen 1 Januarie aanstaande jaar begin die verpligte implementering vir verskaffers van die stelsel, maar Mbai sê ’n oorbruggingsfase sal voorsien word, voordat eise verwerp word.
“Ná die oorbruggingsfase in Fase 2 is die gebruik van diagnostiese kodes verpligtend.”
Dit sluit in die gebruik van ’n minimum driekarakterkode soos PDX in. Vier- of vyfkarakterkodes word in fases geïmplementeer, terwyl ook gefokus sal word op kodes vir kwaliteitbeheer en wanneer ’n kode verwerp word.
BINDEND
Mbai beklemtoon die implementering van ICD-10 is bindend vir alle mediese fondse wat by Namaf geregistreer is. Die verwagting is dat ook die staat se mediese fonds (Psemas) die stelsel sal implementeer.
“Alle lidlande van die WHO het hulle daartoe verbind en ingestem om dit in hul onderskeie lande te implementeer. Namibië is ook ’n lidland.”
In ’n landswye opname deur die Namibië Private Praktisynsforum (NPPF) is bevind diensverskaffers is “redelik gewillig” om die koderingstelsel, “selfs teen geen bykomende vergoeding” in gebruik te neem.
Kommer bestaan egter dat die stelsel ’n bykomende las op diensverskaffers in terme van tyd, koste en kapasiteit gaan plaas.
Volgens die opname blyk dit daar is verwarring oor die vereiste om die stelsel in gebruik te neem, maar 59% van respondente het bevestig hulle is reeds versoek om dit te implementeer.
Die NPPF bevraagteken egter Namaf se wetlike magte om die stelsel op verskaffers van gesondheidsdienste af te dwing. Meer as 80% van respondente stem nie saam dat die stelsel deur mediese fondse in die land geïmplementeer moet word nie, 42% voel dit hou geen voordele vir hulle in nie, terwyl 36% van mening is dit is bloot nog ’n poging deur die finansieringsbedryf om die kliniese vryheid van diensverskaffers in te perk.
– [email protected]
.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie