FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Gemengde gevoelens oor volksmoord-herdenking

Regering se ‘ontkenningsagenda’
Die Ovaherero Tradisionele Owerheid aanvaar nie die argument dat die Namibiese kalender te vol is nie.
Jemima Beukes
Gevoelens is verdeeld oor 28 Mei wat tot nasionale dag verklaar is om die volksmoord te herdenk, met die Ovaherero Tradisionele Owerheid (OTA) wat op 2 Oktober aandring toe Lothar von Trotha die uitwissingsbevel vir die Ovahereros gegee het en op 22 April dieselfde bevel vir die Namas.

Die waarnemende sekretaris-generaal van die OTA, Nandiuasora Mazingo, het gister gesê hulle werk steeds aan ’n omvattende verklaring, maar het die datum heftig verwerp as deel van die regering se “ontkenningsagenda”.

“Ons aanvaar nie die argument dat die Namibiese kalender te vol is nie. Ons het Cassinga- en Ongulumbashedag. Dié datums waarop albei uitwissingsbevele uitgereik is, is twee uiters belangrike gebeurtenisse.

“Volksmoord is die mees groteske misdaad wat gepleeg word. Die datum [28 Mei] is nie ’n belangrike datum in die volksmoordgeskiedenis nie. Dit spreek nie van die bedoeling van Duitsland om ons mense uit te wis nie,” het hy gesê.

Die datum 28 Mei is die dag 116 jaar gelede toe die bevelvoerder van die koloniale Duitse Schutztruppe die amptelike sluiting van alle Ovaherero- en Nama-konsentrasiekampe in die destydse Duits-Suidwes-Afrika beveel het.

In April 2016 het Swanu se president, Usutuaije Maamberua, ’n mosie ter tafel gelê om 28 Mei as die herdenking van die volksmoord te verklaar.

Volgens hom sou dit ’n nasionale teken van respek vir al die slagoffers van Duitse vervolging wees.

Hy het gister by navraag gesê dit is jammer dat daar teenkanting teen 28 Mei is, maar hy wil graag hê dat diegene wat ’n alternatiewe datum voorstel dit deur ’n politieke party in die parlement moet doen.

“Dit is belangrik om te weet dit is nie ’n volksmoorddag nie, maar om die donker hoofstuk wat deur die volksmoord gekenmerk is, te onthou. Die sterftesyfers was baie hoog in die konsentrasiekampe en ons ontken nie dat baie ook in die woestyn gesterf het as gevolg van verhongering nie.

“Maar in die konsentrasiekampe is mense wreed vermoor en opgehang en dit maak die konsentrasiekampe uniek,” het hy gesê

Ida Hoffman, die voormalige parlementslid en kampvegter vir die stryd om vergoeding vir die Nama- en Ovaherero-volksmoord, het president Nangolo Mbumba geloof omdat hy hom vir ’n gedenkdag beywer het.

Sy het egter beklemtoon dat die besluit eers volledig sal wees wanneer die regering verseker dat slagoffers van die volksmoord teruggebring word huis toe om hier begrawe te word of om in museums in Namibië geplaas te word.

“Ek is baie trots dat hy die mosie na die parlement gebring het, dit was nie maklik nie en dit het jare geneem voor dit erken is.

“Vir al hierdie jare wat ek vir die volksmoord baklei, is ek so trots op Mbumba wat uitstekende werk gedoen het.

“Dit is ’n reusedeurbraak. Ek is trots op die werk wat ek gedoen het, maar ek dink ook aan die pad vorentoe om vir repatriasie te veg.

“Ek is bly daar is sprake van geld, maar my grootste kommer bly die geraamtes, skedels en oorskot wat steeds in Duitsland is.

“Daar is steeds oorskot van ons mense. Dit is belangrik dat dit teruggebring word. Ons is nie die geleentheid gegun om ons mense hier in ’n museum ter ruste te lê nie en word getroos dat ons mense in vrede rus.

“Tradisioneel oorhandig jy nie die besittings van ’n persoon wanneer die oorskot steeds in die lykshuis is nie. Omdat hulle daar in Duitsland is, is hulle steeds in ’n lykshuis. Daardie museum is so goed soos ’n lykshuis, want hulle word daar weggesteek,” het Hoffman gesê.

Die Speaker, Peter Katjavivi, het verwys na die tyd wat dit geneem het vir die dag om finaal verklaar te word.

Volgens hom was daar soos in enige demokratiese proses, uitdagings en struikelblokke langs die pad.

“Danksy die noukeurige verifikasie en deurdagte oorweging, is 28 Mei geïdentifiseer as die mees geskikte dag vir die herdenking van die volksmoord.

“Die onderwerp van volksmoord en die noodsaaklikheid om die implikasies daarvan te takel, veral met betrekking tot die Duitse owerhede, was ’n voortgesette kommer vir ons nasie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A #N/A #N/A