Geskorste Sinvula beweer politieke heksejag

Weier beslissing, bly op kantoor
Die geskorste uitvoerende hoof weier om sy pos te verlaat en meen sekere raadslede ontvang instruksies "van 'n derde party".
Kenya Kambowe
Die uitvoerende hoof van Grootfontein se munisipaliteit sê ‘n dorpsraadbesluit om hom te skors, is die uitkoms van ‘n politieke heksejag deur die dorp se burgemeester asook ander in die plaaslike owerheid.

Mnr. Kisco Sinvula beweer hulle ontvang instruksies van ‘n derde party, maar hy het geweier om te sê wie hierdie derde party is.

Hierdie inligting is vervat in ‘n mediaverklaring van 26 Maart, waarin hy protes aanteken teen verlede week se besluit om hom te skors. Hy meen dis ‘n polities gemotiveerde besluit en dat daar nie aan wetsvereistes voldoen is nie.

Sinvula sê hy weier om die skorsingsbrief te aanvaar en sal op kantoor bly totdat die raad die korrekte prosedure volg.

“Ek het geen beswaar teen enige ondersoeke teen my nie, want ek weet dit sal op niks uitloop nie. Ek is ten volle bewus van hoekom en waar die heksejag teen my as persoon begin het en dis ook algemene kennis namens wie die burgemeester en haar span hierdie sinlose aksie neem,” het Sinvula gesê.

Hy sê die besluit om hom te skors is nie afdwingbaar nie omdat slegs drie van die sewe raadslede ten gunste van die mosie gestem het, terwyl die ander vier dit verwerp het.

Die munisipaliteit bestaan uit vier Swapo-lede, twee lede van die Independent Patriots for Change (IPC) en een van die Popular Democratic Movement (PDM).

Die besluit het nie aan die kworum voldoen vir die skorsing om afdwingbaar te wees nie,” het hy verduidelik.

ONWAAR

Sinvula het verder beweer die burgemeester, me. Thalita Garises, het mederaadslede ingelig dat die besluit om hom te skors, deur die lynministerie kom.

Daar word verder beweer ‘n gelekte opname bestaan waarin die bewerings gemaak word. Toe Garises egter vir kommentaar genader is, het sy ontken dat sy sulke stellings gemaak het.

“Die meeste dinge wat hy sê oor ministers wat hom wil skors, is onwaar. Dit wat die uitvoerende hoof in die brief geskryf het, is nie waar nie,” het Garises gesê.

“Alle raadslede was teenwoordig en hy beweer dat een van die lede van ‘n opposisieparty aan sy kant is, maar dit is onwaar.”

Garises sê Sinvula is geskors in gevolge die personeelreël 35 (2) van die Wet op Plaaslike Owerhede, Wet nr. 23 van 1992.

POLITIEKE VERBINTENISSE

Die skorsing kom dae nadat Republikein se susterkoerant die Namibian Sun verslag gedoen het oor die aanstelling van ‘n regsfirma om raadslede in regskwessies te verteenwoordig.

Die regsfirma het binne ses maande meer as N$800 000 vir dié dienste verdien.

Swapo se streekmobiliseerder vir die Otjozondjupastreek, mnr. Clive Kavendji, is die mede-eienaar van die regsfirma Kangueehi & Kavendjii Incorporated.

Nog meer, Kavendji was die skrywer van ‘n brief op 6 Desember 2021 waarin Garises van die Grootfonteinse munisipaliteit herroep word. Die brief is eers weer op 14 Februarie herroep.

Garises het bevestig die regsfirma se aanstelling is een van die redes waarom Sinvula geskors is.

“Ja, ek kan bevestig dat ’n gedeelte van die beskuldigings teen hom te doen het met die regsfirma, maar die fyner besonderhede sal tydens die ondersoek vasgestel word,” het sy gesê.

Ander beweringe teen Sinvula is dat hy nie raadsvergaderings hou nie. Buiten dat Sinvula ten nouste in politiek betrokke is, is hy ook ‘n administrateur en ‘n lid van Swapo se dinktenk (think-tank). – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!