Glyjakkelse loop Duwisib-gasteplaas in

Vals betalingsbewys verskaf
Streekverslaggewer
Twee paartjies met twee kinders het verlede Dinsdag 22 Maart omstreeks 15:30 by die Duwisib Guest Farm ingeboek en die volgende dag in die vroeë oggendure weer vertrek.

Die eienaars van die gasteplaas, mnr. en me. Christian en Rolene Frank-Schultz het eers ná die groep weg is, besef die groep het vertrek sonder om te betaal. Dít toe hulle gesien het die betalingsbewys van die geld wat glo elektronies oorgeplaas is, is vals.

Volgens Rolene is dit die eerste keer wat so iets met hulle gebeur. Sy het ‘n beroep op ander gasvryheidsondernemings gedoen om op die uitkyk te wees vir swendelaars sodat hulle nie ook onder dié skelmstreke deurloop nie.

“Dit is regtig jammer dat dit met ons gebeur het, maar terselfdertyd sal ons voortaan versigtiger wees,” het Christian gesê.

Albei paartjies het met wit Volkswagen Amarok-dubbelkajuitbakkies gereis. Volgens Rolene is hulle nie doodseker wat die voertuie se registrasiemerke is nie, maar beide het Suid-Afrikaanse Gauteng (GP)-nommerplate gehad. Een het glo ’n kampeersleepwa gesleep.

Christian het op Facebook geskryf een van dié glyjakkalse het homself as Colin Morris voorgestel. Hy het bygevoeg die groep het hulle verblyf vir die nag op kort kennisgewing bespreek.

“Hulle reis blykbaar suidwaarts in die rigting van Lüderitz. Kontak my asseblief indien jy enige inligting het.”

Die eienaars het nog nie die voorval aangemeld nie, maar beplan om dit so gou as moontlik te doen.

Duwisib Guest Farm is aan die rand van die Namibwoestyn geleë en is ’n gewilde oornagbestemming vir toeriste wat op pad is na Sossusvlei, Lüderitz of die Visriviercanyon.

Die hooftrekpleister in die omgewing is die Duwisib-kasteel, 'n Middeleeuse fort wat in 1907 vir die Duitse “baron” kaptein Hans Heinrich von Wolf gebou is. Dit is binne ‘n kort stapafstand van die gasteplaas se oornaggeriewe geleë en word deur Namibia Wildlife Resorts (NWR) bedryf. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!