FOTO ELVIRA HATTINGH
FOTO ELVIRA HATTINGH

Grondbelastingdata

Sperdatum dalk uitgestel
Die ministerie hoop 'n konsultant sal kan help om die korrekte grondbelastingaanslae nog betyds aan kommersiële boere te stuur.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Ses werksdae voor die sperdatum vir die betaling van grondbelas­ting op 31 Oktober aanbreek, kan gewysigde aanslae slegs per hand aan kommersiële boere uitgereik word.

Dit volg nadat beide die stelsel vir die druk van belastingaanslae (Land Tax Assessment Printing System) asook die gerekenariseerde titelakte-regis­trasiestelsel (CDRS) van die ministerie van landbou, water en grondhervorming onlangs skade gely het.

Intussen word ’n konsultant betrek om te help met die herinstallering van die stelsel om aan kommersiële boere die regte aanslae te kan aanstuur – dieselfde konsultant wat verantwoordelik was vir die aanvanklike ontwikkeling van die stelsel wat die belastingaanslae uitdruk.

“Die ministerie is bewus van die sperdatum van 31 Oktober vir grondbelasting wat nou vinnig nader kom.

“Ons beskou dit egter net as regverdig dat boere eers die korrekte aanslae ontvang, wat hulle sal toelaat om die regte bedrae vir grondbelasting te betaal,” het die ministeriële woordvoerder, mnr. Simon Nghipandulwa, Woensdag in reaksie op Republikein se navrae gesê.

“Ons werk nóú saam met die konsultante om te kyk of die herinstalleringsproses binne dié tydperk voltooi kan word. Anders, sou dit nodig wees, sal die ministerie ook die betaling van grondbelasting van die ander boekjare uitstel,” het hy gesê.

Dit volg nadat die sperdatum vir die betaling van grondbelasting vir die boekjare 2017-’18 en 2018-’19 intussen reeds tot 31 Desember vanjaar uitgestel is – om veranderinge in terme van die belastingkoers te maak.

“Boere kan ook die hulptoonbank kontak (061 296 5083), waar amptenare tans gewysigde aanslae per hand uitreik,” het Nghipandulwa gesê.

INEENGESTORT

Die ministerie het in ’n mediaverklaring op 20 Junie vanjaar aangedui dat ’n kragonderbreking daartoe gelei het dat een van hul bedieners ineengestort het.

Dié bediener word gebruik vir die CDRS, die grondbelastingstelsel wat die aanslae druk asook vir e-posse.

“Die meeste van dié stelsels is reeds herwin, behalwe vir die deel wat die aanslae moet druk asook die titelakte-registrasiestelsel,” is verduidelik.

Hy kon nie sê wanneer die herwinningsproses voltooi sal wees nie.

“Dit is moeilik om te sê wanneer al die data herwin sal word weens die regering se verkrygingsproses wat gevolg moet word.”

Nghipandulwa sê die ministerie is egter tans besig om ononderbroke kragtoevoertoestelle (UPS) te verkry om te verhoed dat ’n soortgelyke voorval weer hul rekenaartoerusting en –stelsels beskadig.

“Die ministerie het ook ’n maatskappy aangestel om ’n nuwe gerekenariseerde titelakte-registrasiestelsel te ontwikkel. Dit sodat die een wat ineengestort het, vervang kan word, want dit is ook nie meer versoenbaar met die jongste inligtingtegnologie (IT) nie,” het Nghipandulwa bygevoeg.

Die ministerie het ook vroeër vanjaar aangekondig dat dit gewysigde grondbelastingaanslae vir die afgelope vyf jaar aan die eienaars van kommersiële landbougrond sal moet stuur, omdat die eerste aanslae foute bevat het.

NLU REAGEER

“Volgens ons is dit onvermydelik dat alle sperdatums vir die betaling van grondbelasting uitgestel moet word, sonder dat boere boetes opgelê word,” het mnr. Danie van Vuuren van die Namibië Landbou-unie (NLU) Dinsdag aan Republikein gesê.

Hy sê die NLU is bewus van boere se frustrasies en skakel daagliks met die kantoor van die waardeerder-generaal asook NLU-lede om te probeer help om die probleme uit te sorteer.

Hy sê daar is aan hom gesê die stelsel kan teen die einde van die week dalk weer reg wees.

“Die groot frustrasie is egter dat daar min tyd oor is – 31 Oktober is naby en dit maak mense senuweeagtig. Die NLU het egter ’n goeie oopdeurverhouding met die kantoor van die waardeerder-generaal en ons vertrou ons sal die ding kan deursien,” het hy gesê.

Landbouprodusente op Otjiwarongo het ’n pluimpie vir hul dorp se grondbelastingkantoor asook die ministerie van finansies se kantoor op die dorp gegee, wat volgens dié produsente besonders doeltreffend is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!