REVOKED: Grootfontein municipality plans to revoke unpaid plots.
REVOKED: Grootfontein municipality plans to revoke unpaid plots.

Grootfontein dreig om sowat 200 onbetaalde erwe af te vat

Munisipaliteit wil huurooreenkomste beëindig
Sommige erwe is meer as 10 jaar nadat dit aan individue toegeken is nog nie betaal of ontwikkel nie.
Kenya Kambowe
Die Grootfontein-munisipaliteit het sterk standpunt ingeneem wat waarskynlik sal meebring dat byna 200 erwe en omliggende plase van begunstigdes afgeneem sal word aangesien daar vir meer as ’n dekade geen betaling of ontwikkeling op die grond plaasgevind het nie.

Terwyl die vinnige uitbreiding van die informele gebiede in die dorp ’n achilleshiel vir die munisipaliteit is, met desperate grondlose inwoners wat dit op hulself geneem het om raadsgrond onwettig te beset en informele gebiede soos Kap en Bou te vestig, versuim diegene wat gelukkig genoeg was om grond te kry om hul finansiële verpligtinge na te kom.

HUUROOREENKOMSTE

Die munisipaliteit het verder gedreig om huurooreenkomste te beëindig van diegene wat eiendomme in raadsbesit beset sonder om daarvoor te betaal.

“Dit is die raad se voorneme om rekeninge te rekonsilieer vir grond wat toegeken is, maar nie daarvoor betaal is volgens die verkoopsooreenkomste nie, sowel as [diegene wat] munisipale eiendomme huur [met] geen inkomste wat na die raad [kom] nie.

“Grond wat toegeken is, maar nie betaal is nie, sal outomaties aan die raad teruggegee word sonder enige verdere kennisgewing.”

VOORLOPIGE REKONSILIASIE

Die waarnemende uitvoerende hoof van die munisipaliteit, Indileni Lungameni, het Dinsdag aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê die voorlopige rekonsiliasie van die boeke toon dat daar 153 onbetaalde erwe is, waarvan sommige so ver as 10 jaar terugdateer.

Lungameni het verder verduidelik dat sowat 29 eiendomme – bestaande uit gedeeltes van landbougrond wat verhuur word, oop ruimtes wat vir verkope toegeken is, informele handelstalletjies en winkels asook sale wat gebruik word terwyl dit nie ’n inkomste vir die raad genereer nie – sal op beslag gelê word.

Hy het bygevoeg dat die aantal eiendomme waarskynlik sal toeneem aangesien die raad nog die rekonsiliasieproses moet voltooi.

“Dis net diegene wat nie vir die grond betaal het nie. Die erwe en eiendomme sal weer vir potensiële nuwe kopers geadverteer word,” het hy gesê.

FORENSIESE VERSLAG

Namibian Sun het in 2021 berig oor ’n verdoemende ministeriële forensiese verslag oor die munisipaliteit se sake, wat onthul het dat hy sukkel om huur van grondhuurders in te vorder, met sommige wat so min as N$820 per maand vir ’n plaas van 600 hektaar betaal.

Die plase – wat algemeen as kampe bekend staan – is in die Mieliedriehoek geleë.

Die Grootfontein-raad besit vier plase van gesamentlik 2 451 hektaar, wat hy aan derde partye verhuur word.

Die plaaslike owerheid huur ook ’n deel van Townlands 754, wat ongeveer 600 hektaar beslaan. Die huurooreenkomste is geldig vir ’n jaar, met die opsie om te hernu.

Destyds is verder berig dat die oudit – wat deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling uitgevoer is – onthul het dat politici en munisipale personeel die hulpbronne vir hul eie gebruik misbruik het.

VERSLAG

’n Bron wat die verslag onder oë gehad het, het gesê die ondersoek het onthul dat sommige raadswerknemers die direkte begunstigdes was van geld wat ontvang word van plase wat deur die plaaslike owerheid besit word en wat aan derde partye uitverhuur word.

“Van die personeel by die plaaslike owerheid het daarin geslaag om dié plase aan derde partye te verhuur en in plaas daarvan dat die geld aan die plaaslike owerheid betaal is, het hulle op die ou einde die geld gehou,” het hulle beweer.

Die verslag het glo ook bevind dat dié personeel grondregte herroep het van mense wat versuim het om te betaal en, sonder om die wanbetalende kliënt in te lig, het werknemers die grond afgevat.

PLAASLIKE OWERHEID

Dit, het die bron destyds gesê, is hoekom die plaaslike owerheid versuim het om dienste aan Grootfontein-inwoners te lewer wat oor die jare gesien het hoe hul grond deur buitestanders “gegryp” word, en basiese dienste soos water en vullisverwydering reuse-uitdagings geword het.

Lungameni het gesê die verslag se aanbevelings is die afgelope tyd ’n onderwerp van bespreking by die raad.

“Dit is nog nie gedoen nie, dit is nog hangend. Dit is net gedeeltelik geïmplementeer en toe gestaak. Die besprekings het begin en die implementering sal voortgaan waar dit opgehou het,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer