Heckmair-moordverhoor verdaag tot Maart

Getuie onbeskikbaar
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Die binneverhoor van die Heckmair-moordsaak is onverwags onderbreek as gevolg van ’n staatsgetuie wat onbeskikbaar is en sal eers volgende maand hervat.

Die verhoor waarin twee Amerikaners, mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend, op die moord op die 25-jarige André Heckmair teregstaan, sal eers op 8 Maart hervat.

Die binneverhoor handel oor die toelaatbaarheid van bewyse wat deur die polisie sonder ’n visenteringslasbief gekonfiskeer is.

Die staat se laaste getuie is tans in die hospitaal om ’n nekoperasie te ondergaan en is eers vanaf 11 Februarie weer beskikbaar.

Die verhoor was geskeduleer om tot 11 Februarie voort te gaan en die volgende geskeduleerde datums is eers vanaf 8 tot 11 Maart. Ses hofdae is dus in die proses verlore.

VERDEDIGING STAAN

AANSOEK TEEN

Die staat het gister die aansoek om uitstel voor regter Christie Liebenberg ingedien.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, mnr. Mbanga Siyomuinji en me. Laura Pack, het die aansoek teengestaan.

Pack beweer dat die staat dit as ’n vertragingstegniek gebruik.

“Die hof moet nie as gyselaar gehou word weens die onbeskikbaarheid van ’n getuie nie,” het Siyomuinji aangevoer. Hy het verder voorgestel dat die staat hul saak sluit.

Liebenberg het beslis dat die omstandighede buite die staatsaanklaer, adv. Antonia Verhoef, se beheer is en dat sy die geleentheid gegun moet word om al die getuies te roep wat sy beplan het.

“Die verdediging se argument dat dit ’n vertragingstegniek is, het geen grondslag nie. Die staat kan nie aanspreeklik gehou word vir die getuie se onbeskikbaarheid nie,” het hy gesê.

Liebenberg het wel bygevoeg dat hy die verhoor se vele vertragings in ag moet neem, aangesien die verhoor reeds sowat sewe jaar sloer.

Die verhoor het in November 2014 begin.

Hy het gesê indien die getuie nie op 8 Maart beskikbaar is nie, sal die kwessie verder hanteer word.

AGTERGROND

Die polisie het drie keer die beskuldigdes se kamer in ’n gastehuis in Windhoek deursoek. Die eerste keer op 7 Januarie 2011, die dag van die moord en toe die beskuldigdes in hegtenis geneem is, weer op 8 Januarie en die laaste keer op 9 Januarie.

Die polisie het tydens die visenterings beslag gelê op goedere soos onder meer ’n skootrekenaar en twee 9 mm-geweerlope.

Indien Liebenberg in die verdediging se guns beslis, sal die staat nie die bewyse wat tydens die visenterings gevind is, in die hoofverhoor mag gebruik nie.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!