Pastoor Ngondo en raadslid Rodman Katjaimo by die bekendstelling van die 2022 Katutura Ekspo. Foto Jeanette Diergaardt
Pastoor Ngondo en raadslid Rodman Katjaimo by die bekendstelling van die 2022 Katutura Ekspo. Foto Jeanette Diergaardt

Innovering en tegnologie op die voorgrond

Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt

’n Raadslid van die Katutura-kiesafdeling, mnr. Rodman Katjaimo, het by die bekendstelling van die Katutura Ekspo gesê die oorgrote meerderheid tegnologiese besighede behoort aan buitelanders.

Verder meen hy dat gegradueerders geen innovasie aan die dag lê nie.

“Daar is niks wat hulle kan doen nie. Hulle kan nie eens ’n selfoon regmaak nie,” het Katjaimo gesê.

Tegnologie is die kern van vanjaar se ekspo en innoveerders word aangemoedig om aansoek vir stalletjies te doen.

GALADINEE VOORAF

Gegradueerdes van tegniese en beroepsopleidingskolleges word aangemoedig om aan die ekspo deel te neem, asook klein- en mediumondernemings.

’n Stalletjie vir inligting en kommunikasietegnologie sal ook opgerig wees, waar tegnologiese maatskappye hul nuutste en beste tegnologie ten toon kan stel.

’n Landbou- en veeskou gaan ook by die ekspo aangebied word.

Volgens die woordvoerder van die Katutura Ekspo se komitee, me. Esmeralda Katjimune, het hulle nog geen borgskappe vir die ekspo vasgemaak nie, maar is in konsultasie met Bank Windhoek en First National Bank.

Katjimune het ook gesê die publiek kan reeds aansoek vir stalletjies doen.

Katjaimo sê om die ekspo aan te bied, gaan omtrent N$1 miljoen kos en hy doen dus ’n beroep op die publiek en die korporatiewe wêreld vir borgskappe.

Die komitee gaan ’n galadinee voor die ekspo aanbied, sowel as ’n skoonheidskompetisie om geld vir die ekspo in te samel.

Belangstellendes kan aansoekvorms by die Katutura Ekspo se kantoor (erf 5158, Salemstraat, Katutura) afhaal.

Die ekspo sal vanaf 31 Augustus tot 3 September gehou word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer