Inwoners van Blok E kry titelaktes
609 begunstigdes
Die betrokke inwoners se huise is na meer as drie dekades uiteindelik op hul name.
Rehobothers het enkele dae voor die presidensiële en nasionale verkiesings wat Woensdag plaasvind, 'n vroeë Kersgeskenk ontvang, met sommige wat reeds van voor Namibië se onafhanklikwording vir die groot dag gewag het.
Inwoners van Blok E op die dorp wag reeds 46 jaar om besit van hul huise en grond te neem, met die dorpsraad wat amptelik titelaktes vir 609 erwe oorhandig het. Dit volg nadat die kabinet goedkeuring verleen het dat die inwoners se uitstaande skuld afgeskryf kan word. Toestemming is ook gegee dat die regering voorafbetaalde water- en kragmeters gratis aan inwoners voorsien. Volgens die burgemeester Amanda Groenewaldt begin die begunstigdes met 'n skoon rekening en moet hulle sorg dat skuld aan die dorpsraad nie weer ophoop nie. Sy was ook vol lof vir die inwoners se geduld wat dekades gewag het om 'n eie stukkie grond op die dorp te kon besit. Groenewaldt sê die dorpsraad beplan om teen Desember ook 'n teerpad vanaf die middedorp tot by Blok E te voltooi.
Die oorhandiging van die titelaktes is die gevolg van 'n nasionale vervreemdingsprogram waarvolgens plaaslike owerhede grond en huise wat tydens die apartheidsjare gebou is, aan inwoners oorhandig met dien verstande dat hul die betrokke munisipaliteit of dorpsraad niks skuld nie. Blok E se inwoners kon egter nooit hul agterstallige skuld vereffen nie en was tot verlede week gevolglik by die program uitgesluit.
Die goewerneur van die Hardapstreek, Solomon April, het tydens die geleentheid gesê die stryd om onafhanklikheid was eerstens oor grond. "Ons kan Namibië slegs ons tuiste noem as ons grond besit. Wat is ‘n familie sonder ‘n huis? Wat is ‘n nasie sonder ‘n land?” April sê die oorhandiging was slegs moontlik danksy 'n gesamentlike poging en die goeie werk van die Rehoboth-dorpsraad.
“Ek is gelukkig met die dorpsraad. Ten spyte daarvan dat hulle verskillende politieke partye ondersteun, word hulle deur 'n doel gedryf, hulle is 'n span," het hy gesê.
April sê die volgende stap is om die Kapteinshuis terug te besorg aan die oorspronklike eienaars en om Rehoboth as ‘n tradisionele Bastergemeenskap te laat verklaar. Die dorpsraad poog om volgens hom grond hiervoor beskikbaar te stel.
Hy het sy dank teenoor die kantoor van die eerste minister, asook die ministers van finansies en stedelike en landelike ontwikkeling uitgespreek vir die hulp om die oorhandiging ‘n werklikheid te maak.
“Hierdie mense het nou ‘n identiteit, omdat hulle nou hul huise besit. Hulle behoort aan iets, omdat hulle nou grond het,” sê hy.
Die geleentheid is ook deur die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, bygewoon.
“Dit is wat julle regering vir julle kan doen. Ná 46 jaar is julle vandag oorwinnaars, julle is trotse vegters,” het hy gesê. Volgens Uutoni het die Namibiese regering die vervreemdingsprogram in 1992 van stapel gestuur om laeinkomstegroepe te bevorder. Behalwe vir die terugbetaling van skuld was daar egter baie ander probleme met die uitvoer van die program op Rehoboth, het hy gesê. Uutoni het die begunstigdes en inwoners op Rehoboth aangemoedig om aanstaande Woensdag hul kruisies in presidensiële en nasionale verkiesings te gaan trek. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie