Jaag ekonomiese bevryding na

Geingob praat op Heldedagvieringe
Nuwe nasionale helde en ­heldinne is nodig in die stryd om die ekonomiese bevryding van Namibiërs, het die staats­hoof verklaar.
Ellanie Smit
Ellanie Smit

Ekonomiese uitdagings staar Namibië in die gesig, maar die nasie moet hulself nie aan ’n gevoel van hopeloosheid oorgee nie.

In sy toespraak by die herdenking van Heldedag Vrydag op Mariental het president Hage Geingob gesê meer as ooit tevore is dit nou die tyd om pogings te verdubbel om uitdagings daadwerklik aan te pak, sodat die nasie uit die greep van ekonomiese onderdrukking bevry kan word.

“Die stryd vir die ekonomiese bevryding van Namibiërs verg nuwe helde en heldinne. Dis die tyd vir hulle om na vore te tree en die uitdagings aan te pak.

“Net soos die bevrydingstryd lank en bitter was, sal die ekonomiese stryd ook lank en bitter wees, maar die oorwinning is verseker. Uiteindelik sal ons bepaal of ons slaag of misluk en ter ere van ons gevalle helde mag mislukking nooit ’n opsie wees nie.”

Geingob het gesê die nagevolge van die “onmenslike beleid van apartheid” is vandag steeds sigbaar in die vorm van wydverspreide erge armoede onder die Namibiese mense, ’n uitdaging waarmee die regering voortdurend worstel.

“Ons onafhanklikwording en daaropvolgende vryheid, eenheid en geregtigheid was nie goedkoop nie. Daarom moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

“Die demokrasie wat ons vandag geniet, is teen ’n hoë koste verkry. Dit is in bloed betaal.”

Geingob het beklemtoon hoewel vrede ’n wonderlike geskenk is, bly dit broos.

“Daarom, vir ons om vrede en eenheid in ons onafhanklike Namibië te handhaaf, vereis dit dat elkeen van ons die strydbyle begrawe, wrokke verdryf en die kleure van blou en groen, rooi, wit en geel aantrek.”

Hy het gesê die enigste kleure wat moet saakmaak, is die nasionale kleure van die vrye en bevryde mense van Namibië.

Hy het gesê vanweë die lewensverliese kan Namibiërs nooit weer toelaat dat die spook van apartheid hul samelewing binnedring nie.

“Weens die opofferings wat gemaak is, moet ons meedoënloos oor ons soewereiniteit en onafhanklikheid waak.”

Geingob het gesê Namibië het die afgelope paar jaar vele uitdagings in die gesig gestaar.

“Onafhanklike ingrypende veranderlikes soos die wêreldwye kommoditeitskrisis, skommelings in wisselkoerse, herhalende droogtes wat van die ergste in onlangse geskiedenis was, het alles ’n rol gespeel om ons ekonomie onder enorme druk te plaas.”

Die land het ook die realiteit van die Covid-19-pandemie in die gesig gestaar, het hy uitgewys.

“Diegene wat vir die onafhanklikheid van Namibië geveg het, het ’n stewige grondslag van eenheid en opoffering gelê. Die onus rus op ons om die opmars voort te sit waar hulle opgehou het, om die ideale te vervul wat hulle tot patriotiese optrede aangespoor het. Ons moet besef dat dit net die Namibiese mense is wat die aanbreek van ekonomiese bevryding kan inlui.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!