Karasburg
Karasburg

Karasburg ‘soos ’n cuca-winkel’ bestuur

Personeellede skryf aan minister
Minister Uutoni het gesê hy is bewus van die griewe, maar kan nie kommentaar lewer nie aangesien 'n aantal ingrypingsaksies aan die gang is – insluitend 'n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes- Personeellede van die Karasburg-dorpsraad het skerp aantygings gemaak teen die raad, wat onder die Landless People’s Movement (LPM) val.

Hulle het beweer die burgemeester, Maria Veldskoen, en Hansina Isaacks, wat sy na bewering “ingesmokkel” het, is die enigstes met tekenreg vir die bankrekeninge, en bygevoeg die raad word “soos ’n cuca-winkel” bestuur.

In 'n brief aan Erastus Uutoni, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, het die personeel gesê die twee – wat uit is op borgtog van N$1 000 elk nadat hulle onlangs in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering hul kantoor vir persoonlike gewin gebruik het en saamgesweer het om oortredings te pleeg – het ’n parallelle personeelstruktuur op die been gebring en die bestaande personeel uitgestoot.

“U het op 13 Junie 2023 ’n brief aan burgemeester Veldskoen geskryf waarin u haar en die raad gemaan het om op te hou met die onwettige aanstelling van ’n waarnemende uitvoerende hoof, Hansina Isaacks, asook die onwettige aanstelling van ’n persoonlike assistent in die burgemeesterskantoor. Dit is met groot kommer dat ons u in kennis stel dat die raad net nie opgehou het met die onwettige aanstellings soos voorgeskryf nie, maar dat hulle voortgegaan het met hul onwettige aktiwiteite,” het die werkers in ’n brief aan Uutoni, gedateer 6 Oktober, geskryf.

Hulle het bygevoeg die verwydering van kritieke personeellede as ondertekenaars van die raad se bankrekeninge het ’n negatiewe impak op bedrywighede gehad, aangesien hulle nie vir enige bedryfsuitgawes kan betaal of raadsrekeninge kan rekonsilieer nie.

Die personeellede het Veldskoen en Isaacks ook daarvan beskuldig dat hulle verskeie personeellede gewerf het, wat – volgens hulle – “heeltemal in kontras met die huidige ondernemingsargitektuur en in stryd met die werwingsbeleide is”.

“Hierdie onderhoude is deur ’n plaaslike skoolhoof en raadslid en die mensehulpbronpersoneel gevoer,” het hulle beweer.

IN EN UIT

Nico Titus, wat voor Isaacks se beweerde aanstelling as uitvoerende hoof aangestel is, het die stand van sake bevestig en gesê dit gaan al die laaste ses maande so aan.

Aangesien hulle geen bewyse het dat hy nie die uitvoerende hoof is nie, staan hy net in die kantoor rond, het hy gesê.

“Hulle het net besluit om my te vervang met die persoon wat hulle ingebring het as deel van hul politieke motiverings. Ek het my salaris ontvang, maar hulle het ook sonder enige verduideliking my salaris gestaak. Ek is net in en uit – meestal in die gange omdat my kantoor nou beset is,” het hy gesê.

“Betalings word eiehandig deur Isaacks gedoen, sy keur dit goed,” het hy bygevoeg.

PROSES AAN DIE GANG

Uutoni het gesê hy is bewus van die punte van kommer wat geopper is, maar kan nie kommentaar lewer nie aangesien ’n aantal ingrypingsaksies aan die gang is – insluitend ’n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC).

“’n Proses is aan die gang gesit en dit word op baie verskillende maniere hanteer. Die ACC is betrokke. Dit is baie moeilik om nou op jou vraag te reageer," het Uutoni op navrae oor die personeellede se bewerings gesê.

“Die doel om met hulle [personeel van Karasburg se dorpsraad] te vergader, was om van die kwessies net daar en dan uit te klaar. Ek het saam met die persoon van die menslikehulpbron-afdeling soontoe gegaan. Ek dink dit was op 29 Junie, as ek my nie misgis nie.”

Veldskoen wou nie kommentaar lewer nie en sê die saak is tans voor die hof.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!