Katutura-inwoners dreig CoW met hofaksie

Mariud Ngula
Indien die Windhoek-munisipaliteit versuim om gehoor te gee aan die Katutura-inwonerskomitee se eise, dreig hulle om die hof te nader.

Die regsfirma, Henry Shimutwikeni & Co., het ’n klagskrif en brief namens dié inwoners aan Stad Windhoek (CoW) gerig, wat die CoW tot 24 Mei gee om aan verskeie eise te voldoen.

Dit kom nadat die groep die munisipaliteit se aanbod verwerp het om 50% van die rente op rekeninge van nie-pensioenarisse af te skryf en op 15 April daarteen betoog het.

Die woordvoerder van die inwonerskomitee, Shaun Gariseb, het gesê die munisipaliteit het versuim om hul eise te takel en “verskonings gemaak dat hulle nie die klagskrif ontvang het nie”.

“Die [Katutura]-inwoners is nou gereed om die CoW hof toe te neem saam met daardie raadslede wat wanbestuur, finansiële wanbestuur, magsmisbruik, RedForce en tegnokrate met die gees van Mammon beskerm,” het Gariseb bygevoeg.

EISE

Die regsfirma het aangedui dat hulle opdrag van die inwonerskomitee ontvang het om te eis dat die munisipaliteit die skatting van waterverbruik staak, die heffing van rente regstel en die “onregmatige ooreenkoms” wat hulle met RedForce het, beëindig.

Indien die CoW nie aan hul eise voldoen nie, sal hulle glo die hoërhof nader en ’n hofbevel versoek om die besluit en praktyk van die munisipaliteit om waterverbruik te skat, nietig te laat verklaar.

Asook vir die CoW om alle rente gehef op uitstaande bedrae aan te pas in ooreenstemming met Artikel 30 van die Wet op Plaaslike Owerhede no. 23 van 1992 en laastens dat die CoW se ooreenkoms met RedForce tersyde gestel word.

WATERVERBRUIK

In ’n dokument aan die CoW het die firma aangedui die komitee beweer dat die CoW in die nakoming van hul Artikel 30-verantwoordelikhede, oor die jare en in sekere gevalle, die praktyk gebruik het om waterverbruik te skat.

In die dokument word beweer dat hierdie praktyk strydig is met die meting van inwoners se werklike verbruik, wat tans op N$47,18 per kiloliter vir huise vasgestel is, volgens ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 1 Julie 2022.

“Ons instruksies is dat die praktyk om waterverbruik te skat nie net inbreuk maak op regverdigheid en billikheid nie, maar dit strook nie met Artikel 34 van die Grondwet nie. Hierdie afdeling stel in die vooruitsig dat watermeters gebruik moet word vir die bepaling van werklike verbruik,” lui die dokument.

In die dokument word verder beweer dat die CoW sy Artikel 30-mandaat ingevolge die Wet op Plaaslike Owerhede no. 23 van 1992 die afgelope jare oortree het. Die mandaat stipuleer onder meer die verantwoordelikheid om inwoners van water te voorsien.

HEFFINGS

Hulle het verder aangevoer dat verdere oortredings plaasvind soos deur die hef van rente op uitstaande bedrae.

Hulle beweer dit is strydig met Artikel 30 se bepaling.

“Artikel 30 bepaal uitdruklik dat rente teen ’n bepaalde koers gehef moet word, nie meer as die koers wat ingevolge Artikel 1 van die Wet op Voorgeskrewe Rentekoerse no. 55 van 1975 voorgeskryf word nie, op onbetaalde skuld met betrekking tot heffings, fooie of ander gelde,” het hulle gesê.

Die firma het beweer hulle het toegang tot inwoners se rekeninge gehad en dit wys dat rente glo bo die wetlik voorgeskrewe koers gehef is.

Luidens die dokument het die aanstelling van RedForce glo die Wet op Openbare Verkryging no. 15 van 2015 oortree, saamgelees met die Wet op Plaaslike Owerhede no. 23 van 1992 en is dus teenstryding met die wet.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!