Katutura-inwoners verdrink in waterrekeninge

Wees geduldig, vra CoW
Inwoners het onlangs hul frustrasies oor hoë water- en kragskuld uitgespreek.
Yandi Du Plessis
Elizabeth //Kheibes - Die plaaslike sake-eienaar Philadelphia Olifant (39) sê toe die Windhoekse munisipaliteit (CoW) haar water en elektrisiteit byna vier maande gelede afgesny het, het haar lewe op ’n afdraandepad beland.

Olifant, wat ’n wegneemete-kafee in Katutura besit het, het gesê sy moes sedertdien alternatiewe maniere vind om vir haar gesin te sorg.

“Ek moes van my toerusting verpand net om my gesin te kon voed, want ek is die broodwinner. Ek het ook twee vroue in diens gehad en moes hulle laat gaan,” het sy aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê tydens ’n besoek aan haar besigheid wat nou gesluit is.

Olifant het vertel sy het in Desember 2022 besef dat haar bure haar water gebruik. Sy het dit glo nie opgemerk totdat haar rekening aanhou styg het nie.

“Nadat ek gesien het dit gebeur, is ek CoW toe met N$5 000 as ’n manier om die nou-reuseskuld te begin afbetaal.

“Die persoon wat my gehelp het, het my in die oë gekyk en vir my gesê dat hulle nie my geld sal vat tensy ek nog N$5 000 byvoeg nie.”

“Dit het nie net my lewensbestaan beïnvloed nie, maar het ’n geweldige negatiewe uitwerking op my geestesgesondheid gehad, want daar is niks wat ek sonder water en elektrisiteit kan doen om my gesin te voed nie,” het sy in trane gesê.

INWONERS ONTSTOKE

Katutura-inwoners het Dinsdag ’n mediakonferensie gehou om die CoW se reaksie op ’n petisie wat die groep op 19 Julie oorhandig het, te bespreek – waartydens die frustrasies van inwoners, insluitend pensioenarisse, oor hoë water- en elektrisiteitskuld beklemtoon is.

“Van die begin af het ons aan die munisipaliteit gesê ons soek nie vrystelling wanneer dit by ons munisipale verpligtinge kom nie. Ons wil dit betaal. Maar om net pensioentrekkers se skuld af te skryf is ’n ‘spaza’-skuif en is onvolhoubaar. Ons het voorstelle gegee oor hoe ons dink skuld afgeskryf moet word sodat die CoW inkomste kan genereer terwyl hy diens lewer,” het Shaun Gariseb, ’n lid van die groep, gesê.

“Ons het kennis geneem van die benarde posisie waarin die munisipaliteit hom bevind en glo nie hierdie dinge van afskryf van pensioenarisse se skuld nie. Dit is ’n enkeloplossing-benadering en het misluk, want dit is net om ’n rookskerm oor die situasie te skep.”

Volgens Gariseb was die aanvanklike versoek dat pensioenarisse en kwesbare mense se oninvorderbare skuld ten volle afgeskryf moet word. Verder is ’n 75%-afskrywing vir besighede en ander groepe met spesiale omstandighede voorgestel.

“Reëlings by wyse van aftrekkings wanneer water of elektrisiteit voorafbetaal word, sal help, want ’n mens kan na [die CoW se] kantore kom en reël dat 25% afgetrek word elke keer as hulle water of elektrisiteit koop, en sommige kan reëlings tref om daardie 25% in paaiemente af te betaal of in maniere wat die beste by hul finansiële omstandighede pas,” het inwoners aangevoer.

WEES GEDULDIG

Die munisipaliteit het Katutura-inwoners verlede week gevra om geduldig te wees terwyl hy aan ’n oplossing werk.

“Die CoW werk tans aan ’n voorstel om skuld vir pensioenarisse en rente vir alle inwoners af te skryf. Hierdie proses moet egter versigtig uitgevoer word om volhoubaarheid oor die langtermyn te verseker,” het die adjunkburgemeester, Magdalena Lombardt, gesê.

“Vir pensioenarisse se betalingsreëlings is ’n hoofbesluit geneem om ’n afbetaling van slegs 15% te hef, pleks van die 33,33%-vereiste volgens die CoW se kredietbeheerbeleid.

“Ons is bekommerd oor inwoners wat nie pensioenarisse is nie wat situasies soos hierdie gebruik om petisies op te stel en ondersteuning te kry terwyl hulle self agterstallige skuld het, en wat wegskram van hul verpligtinge om te betaal. Daarom sal sulke gevalle – insluitend herhaalde heraansluitings van wanbetalers se dienste – deeglik ondersoek word,” het sy beklemtoon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!