Katutura-inwoners wil CoW se begroting sien

Yandi Du Plessis
Elizabeth //Kheibes - Die Katutura-inwonerskomitee het die Windhoekse munisipaliteit (CoW) tot einde Oktober gegee om sy goedgekeurde jaarlikse begroting openbaar te maak en gesê water- en kragonderbrekings maak hulle “desperaat”.

Die komitee se voorsitter, Benestus Kandundu, het Woensdag tydens ’n gemeenskapsvergadering gesê dit is “hoog tyd” dat die Katutura-inwoners self die begroting onder oë kry.

“Ons doen ’n beroep op die CoW om sy huidige goedgekeurde begroting aan die gemeenskappe bekend te maak – op dieselfde manier as wat hy sy verklarings uitstuur sodat almal kan weet waarmee hulle te doen het.

“Teen einde Oktober 2023 behoort die inwoners self die begroting te kan lees. Ons gaan Stad Windhoek ontkoppel – net soos hulle ons dienste en in wese ons lewensbestaan ontkoppel het en ons groei verhinder het,” het hy gesê.

Die afgelope paar maande is daar groeiende kommer onder Katutura-inwoners oor die teenwoordigheid van die skuldinvorderaar RedForce Debt Management, maar CoW het agter sy besluit gestaan om van RedForce se dienste gebruik te maak.

Die 67-jarige pensioenaris Ellen Johannes het tydens die vergadering gesê haar skuld het gestyg tot byna N$200 000 wat sy “net nie in staat is om te betaal nie”.

“Ons is oud en het chroniese medikasie om daagliks te neem met water wat ons moet optel. Soos die water week na week staan, raak dit al hoe meer besmet.

“Gevolglik ly ons nou aan erge diarree, maar ons het geen keuse nie. Baie van ons is gelaat met skuld deur ons oorlede mans wat ons probeer afbetaal soos ons kan met die N$800 wat ons van NamPost kry.”

Volgens Johannes het sy ’n kennisgewing van RedForce ontvang om haar rekeninge te vereffen. Sy sê egter die bedrae bly styg – selfs terwyl die dienste opgeskort is.

Die komiteeleier, Shaun Gariseb, het CoW verder daarvan beskuldig dat hy “die wet oortree” deur betalings van inwoners te eis wat nie eens munisipale kontrakte het nie.

“Ons oorweeg dit om hof toe te gaan en te eis dat die CoW die kontrakte vir die verskaffing van water en elektrisiteit vir ons gee, want daardie kontrakte is die toppunt van die voorsieningsverhouding tussen die munisipaliteit en enige inwoner en sal die inwoners inlig oor die bepalings en voorwaardes van sy of haar kontrak met die munisipaliteit.

“As daar geen kontrakte beskikbaar is nie – wat ons weet die geval is – oortree die munisipaliteit die wet en sy bepalings waarop hy staatmaak om sy regte uit te oefen. Die afwesigheid van sulke kontrakte beteken dat die CoW sonder rede opgetree het en op ’n dwaalspoor was met die idee dat hy die nodige magtiging gehad het om verpligtinge na te kom wat spruit uit sy regsverhouding met die inwoners,” het Gariseb gesê.

Gariseb het bygevoeg die komitee het nou besluit om met president Hage Geingob te praat met die hoop om ’n oplossing te vind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!