|Khomanin soek grond terug

Tradisionele owerheid hou vreedsame optog
Die jongste pleidooi volg op 'n besoek van Gaos Juliane Gawa-!Nas aan pres. Hage Geingob in Junie, waar haar mense se lot bespreek is, en die regering tot dusver nog geen heenkome gebied het nie.
Augetto Graig
“Die naakte waarheid is dat ons regering ons nie in ag neem nie en ons benadeel. Ons is hier gebore en het hier grootgeword, maar in Havana – om ons voorvaders se grafte – staan sjebiens en sinkhuise. Ons kom van Khomas en ons soek grond in Khomas, anders sal ons die grond self vat.”

So het die |Khomanin-stamleier, Gaos Juliane Gawa-!Nas, gesê.

Die |Khomanin Tradisionele Owerheid het Woensdag ’n optog tot by die visepresident, Nangolo Mbumba, se kantoor gehou om weer eens ’n pleidooi aan die regering te rig vir hulle eie stukkie grond.

Die |Khomanin-stam wat oorspronklik van Windhoek afkomstig is, besit geen grond in hul geboorteland nie – die plek waar hul voorvaders begrawe is, en bedryf sy sake uit ’n kamertjie in die Gawa-!Nas-woning in Dolam, Katutura.

Net die leiers van die ongeveer 50 000 mense wat oor dié streek en die res van Namibië versprei is, het aan die vreedsame optog deelgeneem. Die woordvoerder van die tradisionale owerheid, Joro Eiseb, het die klagskrif aan Christine //Hoebes, die minister in die presidensie, oorhandig. Beide Mbumba en president Hage Geingob was uitstedig.

Eiseb het voor Ou Staatshuis uitgebrei oor sy mense se lot, insluitend talle straatkinders asook verskeie haweloses in die hoofstad, en menige wat van kommersiële plase verjaag is.

Dit is |Khomanin-mense wat in die informele nedersettings Agste Laan en Negende Laan buite Windhoek bly.

Die jongste pleidooi volg op ’n besoek van Gawa-!Nas aan Geingob in Junie, waar haar mense se lot bespreek is, en die regering tot dusver nog geen heenkome gebied het nie.

Die klagskrif dui aan dat die |Khomanin reeds hul stryd met die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, opgeneem het, asook met die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta; die minister van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing, dr. Itah Kandji-Murangi; die goewerneur van die Khomasstreek, Laura McLeod-Katjirua; en Erongostreek se goewerneur, Neville Andre.

Dit was als tevergeefs, sê hulle.

Walter /Hâseb, ’n senior hoofman en Gawa-!Nas se spesiale raadgewer, het tydens die optog gesê hulle nader nou die visepresident op Geingob se opdrag en dat die tradisionele owerheid reeds alle regeringsprosedures om hulp uitgeput het.

Hy het ’n hofbevel uitgelig wat die Universiteit van Namibië (Unam) gekry het om die |Khomanin te verbied om grafte by Neudamm te besoek.

Die Windhoekse munisipaliteit brei uit en gebiede soos Groot Aub en ander plekke waarheen hawelose |Khomanin getrek het, val nou onder die munisipaliteit se beheer.

“Ons kan nie met ons diere in die stad bly nie. Waarheen nou?” vra Gawa-!Nas.

“Hulle wil ons van die hele Namibië verjaag,” het /Hâseb gesê.

//Hoebes het nadat sy die klagskrif in ontvangs geneem het, gesê die president is ten volle bewus van die |Khomanin se omstandighede en het opdrag gegee dat die kwessie aandag moet geniet. Sy sal glo teen Maandag die klagskrif aan Mbumba oorhandig.

“Drie en dertig jaar later sing ons steeds dieselfde deuntjie,” sê die leier van die |Khomanin.

“Ons is baie kwaad; vir 33 jaar lewe ons onder hierdie grap. Nou dat ons opstaan, sê hulle daar is twee plase vir ons gekoop,” sê sy.

/Hâseb voeg by die owerheid het geen amptelike kennisgewing van die twee plase ontvang nie.

“Ons het in die media gelees dat die minister so iets genoem het,” sê hy.

Ook in terme van myne binne die tradisionele owerheid se gebied word die |Khomanin nie genader nie.

“Hulle doen dinge agter ons rug,” het /Hâseb gesê.

Die Lodestone-ystermyn, Matchless en die Oamities-kopermyn is almal in die Khomasstreek.

Eiseb het gesê tensy oplossings gebied word, sal dié week se geleentheid binne vier weke deur ’n volskaalse optog opgevolg word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!