Diese Aufnahme entstand als einem NMH-Journalisten in Namibia erlaubt wurde, zumindest einmal hierzulande die von Headspring Investments eingesetzte Explorationsausrüstung zu fotografieren. • Foto: Ogone Tlhage
Diese Aufnahme entstand als einem NMH-Journalisten in Namibia erlaubt wurde, zumindest einmal hierzulande die von Headspring Investments eingesetzte Explorationsausrüstung zu fotografieren. • Foto: Ogone Tlhage

Konsultant breek bande met uraanprojek

Omgewingsimpakstudie hang nou in die lug
Die beëindiging van die kontrak was glo 'n wedersydse ooreenkoms tussen die twee partye ná 'n reeks vergaderings.
Frank Steffen
Belanghebbendes wat geregistreer het as geraakte partye in Headspring Investment se eksplorasieprojek in die Stampriet-akwifer, was verras om Dinsdagaand via e-pos ingelig te word dat die Namibiese omgewingskonsultant Environmental Compliance Consultants (ECC) sy kontrak met Headspring beëindig het. ECC is deur Headspring aangestel vir ’n omgewingsimpakstudie (EIA) ten einde ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) te bekom om uraan in die Leonardville-omgewing te ontgin deur ’n mynproses bekend as in situ-loging. Die proses moet geskied in ooreenstemming met bepalings van die Omgewingswet, aangesien geen mynbou kan geskied sonder dat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ’n omgewingklaringsertifikaat uitgereik het nie. “ECC se beëindiging van die kontrak is nogal verstommend, veral omdat dit blykbaar die tweede Namibiese maatskappy is wat sy bande met Headspring Investments verbreek,” het me. Tanja Dahl van die Komitee vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (SAUMC) by navraag gesê. Sy sê boere is “natuurlik bekommerd oor dié verwikkeling, want wie gaan nou die opdrag kry om ’n omgewingsimpakstudie (EIA) op te stel?” Volgens Dahl bestaan daar ’n vraag oor wat sal gebeur met die inligting wat tot dusver ingesamel is, wetende dat sulke ontwikkelings en inligting noodsaaklik sou wees vir die volledige EIA. Sy sê sy is bewus van meer as 60 bladsye se inligting wat reeds bestaan. “Die publiek is bekommerd oor wat nou gaan gebeur, en boere dring aan op groter deursigtigheid.” Mnr. Stephan Bezuidenhout, direkteur en hoof-omgewingspraktisyn by ECC, het dit duidelik gestel dat hierdie inligting aan die kontrakterende owerheid, ofte wel Headspring, behoort. Hy het aan Namibia Media Holdings bevestig dat ECC kennis gegee het (om die kontrak te beëindig). Intussen het Headspring se woordvoerder, mnr. Riaan van Rooyen, verduidelik ECC “is aangestel om omgewings- en maatskaplike impakstudies te doen” en dat die beëindiging ’n “wedersydse ooreenkoms” was. Die beëindiging van die kontrak was volgens hom nie ’n skielike verwikkeling nie, maar is tussen die partye “ooreengekom ná ’n reeks vergaderings”. Van Rooyen het spesifiek verwys na ’n gedeelte in ECC se e-pos wat lui: “ECC het ’n gedetailleerde reeks openbare konsultasies vir hierdie projek voltooi en ’n konsepverslag opgestel. ECC het ook ’n gedetailleerde opdrag vir ’n spesialis-grondwaterstudie opgestel – die belangrikste en mees omstrede komponent van die voorgestelde in situ-uraanontginning. “Onversoenbare verskille het ontstaan tussen ECC en Headspring Investments wat daartoe gelei het dat ECC sy professionele omgewingskonsultasiedienste formeel onttrek het.” Volgens Van Rooyen dateer die beëindiging terug na begin Augustus vanjaar. Dit verduidelik ook waarom geen verteenwoordiger van ECC teenwoordig was tydens die besoek aan Kazakstan toe Headspring mediaverteenwoordigers genooi het om myngebiede in daardie land te besoek om die logingsproses beter te verstaan nie. Aangesien die betrokke mediaverteenwoordigers verbied is om foto’s of video’s tydens dié besoeke te neem, kon die reis nie die insig gee waarvoor baie gehoop het nie. Intussen het Van Rooyen gesê EcoWise sal nou as konsultant oorneem met die doel om ’n omgewinginpak- en maatskaplike impakstudie betreffende die beoogde uraanontginningsplan voor te berei. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!