onwettige huise Nampa
onwettige huise Nampa

Kortnuus 17 Februarie 2022

Windhoek

Nanso vra grasie vir registrasie

Die Namibië Nasionale Studente-organisasie (Nanso) het hoëronderwysinstellings versoek om registrasievereistes te verlig vir 2022.

Studenteskuld bly volgens mnr. Malcolm Kambanzera, sekretaris vir opvoeding, ‘n bekommernis midde die nasleep van die Covid-19-pandemie. Vergunnings en meer bekostigbare tariewe kan volgens Nanso deel wees van pres. Hage Geingob se jaar van “re-imaging”.

Studente skuld N$400 miljoen aan Unam en N$80 miljoen aan Nust. – Nampa

Walvisbaai

Slaan onwettige strukture self af

Onwettige en nie-goedgekeurde strukture op munisipale grond moet voor 31 Maart verwyder word, sê die munisipaliteit van Walvisbaai.

Die munisipaliteit sal sulke strukture platslaan en die materiaal konfiskeer waarmee dit gebou is indien die sperdatum nie nagekom word nie.

Oortreders kan ook in terme van die Wet op Plaaslike Owerhede vervolg en beboet word. Die wet skryf ‘n boete van tot N$5 000 en/of tronkstraf van tot ‘n jaar voor. – Nampa

Rundu

Grenspos heropen by Sarasungu

Namibiese en Angolese amptenare het Dinsdag amptelik die Sarasungu-grenspos tussen die twee lande op Rundu heropen.

Die stap volg na drie bilaterale vergaderings oor die herstel van die beweging van mense en goedere in die belang van die ekonomie en mense se welsyn. Die grens met Angola is in 2020 weens die Covid-19-pandemie gesluit.

Reisigers tussen Namibië en Angola benodig ‘n negatiewe PCR-toets of moet volledig ingeënt wees. Sewe dae in kwarantyn op eie koste geld vir ander mense. - Nampa

Oshifo

Aspersies steel nie reënwater

Die goewerneur van die Omusati-streek, mnr. Erginus Endjala, het bewerings dat ‘n aspersie-prosesseringsaanleg by die Etunda-groenskema verhoed dat dit reën as bog bestempel.

Die projek het 320 werknemers en verskaf tydens die seisoen se piektyd werk aan 600 mense.

Volgens Endjala moet mense eerder oor die botanie en wetenskap oplees as om die “politiek” van mites te glo. Gegriefdes moet bewyse bring en kan hulle volgens Endjala op die hof beroep. – Tuyeimo Haidula, Oshakati

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer