Kraaines op Karasburg

Munisipaliteit ervaar uitdagings
Die bestuur van die munisipaliteit is in gedrang, met twee uitvoerende hoofde wat na bewering die dorp wil lei.
Augetto Graig
’n Suidedorp gaan gebuk onder talle uitdagings te midde van verskeie weergawes oor die ware stand van die munisipaliteit se bestuur.

Die meeste munisipale dienste, soos water en kragtoevoer en die verwydering van rommel, word egter steeds op Karasburg gelewer. Dit glo danksy die dorp se tegniese span.

Dit is onseker hoe lank dié dienslewering sal voortduur aangesien daar glo soms kort onderbrekings is.

Die bestuur van die dorp se munisipaliteit is in gedrang, met twee uitvoerende hoofde wat na bewering die dorp wil lei.

Die verwarring is legio.

Republikein het vroeg vandeesmaand verkeerdelik berig die waarnemende uitvoerende hoof, Hansina Isaaks, se dienste is opgeskort oor geld wat gedurende haar leierskap verdwyn het.

Dié bewering deur die Landless People’s Movement (LPM) se voorsitter van die beleidseenheid, Lazarus Kairabeb, is egter oor die ander uitvoerende hoof, Nico Titus, gemaak.

Titus is vir kommentaar genader maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Volgens Isaaks is sy in diens van die munisipaliteit op Keetmanshoop en is vir drie maande – vanaf 1 Junie tot 31 Augustus – aan die Karasburg-dorpsraad geleen.

Die vereiste proses is gevolg alhoewel die dorp se administrateurs nie die terminologie verstaan het nie en dit verkeerdelik vertolk het om ʼn permanente aanstelling te beteken. Daarom word die proses vir die sodanige ‘aanstelling’ bevraagteken, sê sy.

“Gevolglik is ’n fopboodskap aan die res van die personeel en lede van die gemeenskap asook die lynministerie deurgegee dat Isaacks nie volgens prosedure aangestel is nie.

“Tydens die [onlangse] vergadering met die raad is die minister weer ingelig oor die proses om personeel uit te leen en al die korrespondensie na die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling is aan hom voorgelê om te bewys dat die proses behoorlik gevolg is. Daarna is bevind dat die proses korrek was,” brei sy oor die kwessie uit.

Titus se jaarlange skorsing het glo nie met vermiste geld te doen gehad nie, maar hou verband met ’n voormalige werknemer, volgens Karasburg se bestuurder van menslike hulpbronne, wat anoniem wou bly.

Sy sê Titus se skorsing het op 29 Junie geëindig en dat hy weer terug op sy pos is. Sy sê sy moes ingryp toe LPM-leiers en gemeenskapslede wou keer dat Titus op 30 Junie na sy kantoor terugkeer.

“Sy dissiplinêre verhoor moet nog plaasvind. Hy verdien ’n kans om gehoor te word,” dring sy aan.

Sy sê die LPM gebruik “vuur en geweld” om ’n “gevaarlike werksomgewing” te skep. Sy weier ook om Isaaks op die munisipaliteit se betaalstaat te plaas omdat Isaaks se aanstelling volgens haar onreëlmatig is.

Intussen vergader die dorpsraad nie en die noodsaaklike bestuurskomitee kan nie hul werk verrig nie, sê sy.

“As gevolg hiervan kan geen nuwe aanstellings gemaak word nie, die begroting kan nie goedgekeur word nie en geen groot uitgawes kan aangegaan word nie.

“Ons werk in ’n vakuum,” het sy gesê.

Isaaks sê egter dit is nie reg dat Karasburg sonder ’n bestuurskomitee moet klaarkom nie.

Sy sê die adjunkburgemeester, Josef Witbooi, het uit dié pos bedank om by die bestuurskomitee aan te sluit om ’n kworum te vorm.

Verder sal die ministerie dié week die vakante pos vir ’n raadslid in die Staatskoerant publiseer, om ’n derde LPM-lid op die bestuurskomitee te laat aanstel, voeg Isaaks by.

Sy sê Karasburg se probleme “strek verder as politiek. Dit is ’n rassekwessie en dit is die werklikheid”.

Inwoners het op 11 Julie teen die menslikehulpbronbestuurder betoog en haar ontslag geëis, glo nadat sy van die ouer Karasburgers “armgatte” genoem het. Sy ontken dit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!