An artist impression of the envisioned Solitude Beach development. Photo Contributed
An artist impression of the envisioned Solitude Beach development. Photo Contributed

Kusdorp ontstoke oor grond

Inwoners bevraagteken verkoopstransaksies
'n Groep inwoners is bekommerd oor 'n aantal grondtransaksies wat die munisipale raad van Hentiesbaai aangegaan het.
Kristien Kruger
Otis Daniels – “Ek weet nie wat met die mense van Hentiesbaai aangaan nie. Ons doen nie net dinge as ’n raad nie. Alle besprekings oor grond word in camera gedoen.”

So het die uitvoerende hoof van Hentiesbaai se munisipaliteit, Elizabeth Coetzee, gesê oor gemeenskapslede se gemengde reaksie nadat die munisipaliteit ’n besluit geneem het om erwe op die Noord- en Suidduin te verkoop.

Sy wou aanvanklik nie kommentaar lewer nie en het gesê sy verstaan nie waaroor mense so ontstoke is nie.

’n Betroubare bron het bevestig dat eiendomsagente en sake-eienaars in die konstruksiebedryf op Sondag 2 April vergader het om dié kwessie te bespreek. Die partye het besluit om die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) te nader om ondersoek in te stel.

’n Besluit is ook geneem om die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, te nader om alle beweerde verdagte grondtransaksies in die dorp te staak.

’n Inwoner van Hentiesbaai, Christo Retief, het gesê skaars ’n week nadat die verkoopstransaksie vir ’n gesogte erf van 25 hektaar by Solitudebaai vir sowat N$3 miljoen bevestig is, het dit aan die lig gekom nog ’n gesogte stuk grond is op die Noordduin onder dieselfde voorwaardes verkoop.

“Gedeelte 98 van die Hentiesbaai Dorpsgrond No. 133 wat 25,6029 vierkante meter beslaan, is aan Florida Trading verkoop met die doel om ontwikkeling vir gemengde gebruik te vestig, ingevolge raadsbesluit CO17/26/10/2022,” het Retief op die WhatsApp-groep Henties Bay Info gesê.

Retief het ook gesê net soos met Solitudebaai, is die prys slegs N$3,8 miljoen, ofte wel N$15 per vierkante meter, en in beide gevalle is geen openbare bod aangevra nie.

“’n Openbare veiling is blykbaar nie eens oorweeg nie en geen plaaslike ontwikkelaars is genader oor moontlike deelname vir die ontwikkeling nie.”

Volgens hom word die totale grondwaarde by Solitude tussen N$70 miljoen en N$100 miljoen bereken en die munisipaliteit sou dit deur middel van ’n veiling kon behaal.

“Die huidige markwaarde van grond op Hentiesbaai wissel vanaf N$750 per vierkante meter tot N$2 100 per vierkante meter vir erwe teen die strand en die erf wat verlede week aan Neral Investments by Sunbay/Solitude verkoop is, is die laaste van 74 erwe wat beskikbaar is teen Hentiesbaai se strand.”

Een inwoner wou weet of inwoners geen sê in die saak het nie en ’n ander het gesê sy sal haar eiendom verkoop en trek.

“Ontspan. Teen die tyd dat hierdie dinge regtig gebeur, sal ons dood en begrawe wees,” het ’n ander een geantwoord.

“OOP EN DEURSIGTIG”

Coetzee het inwoners aangeraai om die Wet op Plaaslike Owerhede no. 23 van 1992 te raadpleeg, wat aan plaaslike owerhede die reg verleen om eiendom oor te dra.

“Afdeling vyf, artikel 30 van die wet bemagtig plaaslike owerheidsrade om enige vaste eiendom te bekom, te huur, te verpand of te verhuur of verkoop of, andersins, sodanige vaste eiendom op enige wyse aan die staat, ’n streekraad of enige ander plaaslike gesagsraad oor te dra of, tensy die minister anders bepaal, via openbare veiling aan enige ander persoon,” het sy aangehaal.

Oor die kwessie van raadsnotules of agendas wat nie beskikbaar is nie, het Coetzee gesê die raad druk slegs 12 kopieë vir spesifieke partye, soos die kantoor van die goewerneur.

“Ons het nie geld om kopieë te druk vir verspreiding soos die munisipaliteite van Swakopmund en Walvisbaai nie. Welgedaan aan hulle dat hulle dit kan doen!”

Sy het ook beklemtoon dat artikel 14 van die wet op plaaslike owerhede (afdeling 2) bepaal dat elke vergadering van ’n plaaslike owerheidsraad oop vir die publiek sal wees, behalwe met betrekking tot aangeleentheid wat verband hou met aanstellings en enige aanbod wat deur die raad gemaak moet word deur middel van tenders of die aankoop van enige eiendom.

“Die Hentiesbaai plaaslike owerheid streef daarna om ’n oop, deursigtige en akkommoderende entiteit te wees wat alle Namibiërs verwelkom om eiendom in die dorp te koop.”

ONTWIKKELING

Die burgemeester van die dorp, Lewies Vermaak, het gesê Hentiesbaai moet ontwikkel word.

“Ons is ’n Klas 2-munisipaliteit en ministeriële goedkeuring is aan ons verleen om grond te verkoop. Ons het vasgestel om dit teen N$15 per vierkante meter te verkoop. Die ontwikkelaars moet ook verseker dat alle vereiste dienste ten volle verskaf word. Sodoende kan ons uiteindelik ’n Klas 1-munisipaliteit word.”

Vermaak het verduidelik sodra grond ontwikkel is, dit geld vir die munisipaliteit sal genereer.

“Mense moet verstaan grond in enige munisipale gebied is waardeloos tensy dit ontwikkel word nie. Ons het geld nodig om dienste soos byvoorbeeld padinstandhouding te verskaf en sal eers fondse hiervoor kan genereer sodra mense begin gebruik maak van dienste wat deur die munisipaliteit op ontwikkelde grond verskaf word.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!