Rodney Hoxobeb (29) Foto Rita Kakelo
Rodney Hoxobeb (29) Foto Rita Kakelo

Man erken hy vermoor werkgewer

Hy wou glo nie vir hom kos gee nie
Rita Kakelo
“Ek was kwaad oor die manier waarop mnr. Mungunda my behandel het, want hy het my na sy plaas gebring om te werk. Hy kon egter nie vir my kos gee nie en het my aangerand.”

Dit was die verweer van die 29-jarige moordbeskuldigde Rodney Hoxobeb in sy pleitverduideliking vandeesweek in die hoërhof in Windhoek oor hoekom hy sy werkgewer, Christof Mungunda, drie jaar gelede vermoor het.

Hoxobeb het skuldig gepleit op vier van die ses aanklagte teen hom, naamlik moord, roof met verswarende omstandighede, roekelose bestuur en bestuur sonder ’n geldige rybewys.

Hy het egter onskuldig gepleit op die aanklag van poging tot moord op sy medeplaaswerker Jerry Shitani, wat hy na bewering met Mungunda se gesteelde Toyota-bakkie wou omry. Hy het ook onskuldig gepleit op die sesde aanklag van bestuur onder die invloed van alkohol.



VERGELDING

Hoxobeb, wat op Mungunda se plaas by die Mberitjiwa-pos naby Gobabis gewerk het, het aan regter Philanda Christiaan gesê hy het die aand van die moord op sy werkgewer uit vergelding opgetree nadat hy vir kos gevra het.

Hy het aan Mungunda gesê daar is geen kos in sy sinkhuis nie, maar hy het egter geweier om Hoxobeb te help.

“Ek het na my buurman se huis gegaan om vir kos te vra, want my kind en my meisie het niks gehad om te eet nie. My buurman het vir my pap gegee en ek is terug na my sinkhuis toe. Later dieselfde dag het mnr. Mungunda na die pos teruggekeer en my gevra of ek wil werk of nie.

“Ek het vir mnr. Mungunda gesê kan nie op ’n leë maag werk nie. As hy nie vir my kos wil gee nie, moet hy my terugneem Gobabis toe, omdat ek gevoel het hy behandel my sleg,” het Hoxobeb verduidelik.

Volgens hom het Mungunda dadelik begin om hom te beledig en hom aangesê om onmiddellik sy plaas te verlaat. Die bakleiery het na bewering so vererger dat Munguna Hoxobeb geklap het.

Toe hy Mungunda by ’n waterpomp sien staan, het Hoxobeb hom glo verskeie kere met sy selfgemaakte bylhandvatsel oor sy kop en teen sy nek geslaan totdat hy ineengestort het.

“Ek het geweet dit wat ek besig was om te doen, kon hom doodmaak, maar ek het steeds voortgegaan.”

Hoxobeb het glo hierna na Mungunda se huis gegaan waar hy na bewering verskeie items gesteel het waaronder sy Toyota Hilux-bakkie, selfoon, polshorlosie, beskuit en 12 blikkies vis.

Hy het in die hof erken dat hy die gesteelde bakkie sonder ’n geldige rybewys en op ’n roekelose manier op ’n openbare pad bestuur het.

’n Polisiebeampte Johny Beukes wat by die polisiekantoor op Gobabis gestationeer is, het dit bevestig.

“Ons het gesukkel om hom te vang. Hy sou in die middel van die pad stop en wanneer iemand probeer om nader aan die bakkie te kom, sou hy wegjaag,” het Beukes getuig.

Volgens hom het Hoxobeb na alkohol geruik, was hy gewelddadig en het geweier om sy samewerking te gee. Dit het vier polisiebeamptes geneem om hom te bedaar en onder beheer te bring.

Die saak is tot Vrydag 14 Maart uitgestel vir finale betoë voor vonnisoplegging.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer