Man ‘vrees vir sy lewe’

Tanja Bause
Tuyeimo Haidula

’n Namibiese diplomaat, Peter Haufiku, wie se eksvrou, Kristo­fina Amutenya, byna drie jaar gelede na bewering hul twee kinders in Ethiopië vermoor het, sê hy vrees vir sy lewe.

Haufiku het onlangs aansoek by die hof gedoen vir ’n beskermingsbevel.

Sy saak is Vrydag in die landdroshof op Ondangwa aangehoor in ’n verhoor agter geslote deure, wat Amutenya ook bygewoon het.

Weens die sensitiewe aard van die saak het die hof besluit om nie die besonderhede van die verrigtinge bekend te maak nie.

Haufiku, ’n kommersiële attaché by die Namibiese ambassade in Ethiopië, het kort ná die hofsitting met Republikein se susterkoerant Namibian Sun in sy prokureur, Anthony Shapumba, se teenwoordigheid gepraat.

Hy het die hof vir ’n beskermings­bevel genader om sy eksvrou te dwing om nie naby sy drie eiendomme – ’n huis in Windhoek, een in die Noorde en een in Ethiopië – te kom nie.

Hy beweer ook daar was twee pogings op sy lewe en dat hy vermoed sy is agter die voorvalle.

Haufiku het gesê die eerste poging het in Januarie 2023 in Namibië gebeur. Hy sê iemand het op sy ­voertuig, drie kilometer van Omwandi, geskiet.

“Die tweede voorval het gebeur terwyl ek by my huis in Ethiopië was en die koeël deur my slaapkamer se plafon gekom het. Dit het my met 30 sentimeter gemis. Ek glo nie ek het vyande of iemand daar buite wat dalk van my ontslae wil raak nie. Ek het nog nooit voorheen hierdie aanvalle of dreigemente gehad nie,” het hy gesê.

Haufiku het gesê hy het die voorvalle in beide lande by die polisie aangemeld. Hy sê die Ethiopiese amptenare ondersoek ’n saak van poging tot moord. Die Namibiese polisie het in opdrag van die hoof van die polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, beskerming aangebied deur polisiebeamptes te voorsien om sy huise op te pas.

Hy het gesê hy leef nou in vrees vir sy lewe en die polisie het hom aangeraai om vir ’n beskermingsbevel aansoek te doen, wat hy in Junie 2023 ingedien het. Volgens Haufiku staan Amutenya die beskermingsbevel teen.

Haufiku is verstom waarom Amutenya die beskermingsbevel sou teenstaan, aangesien sy geen rede het om naby sy eiendomme te kom nie. Hy het gesê hulle is in November 2020 geskei.

“Sy is tot einde November 2023 kans gegun om haar besittings op te laai, maar sy het dit nie gedoen nie.”

OORLEWENDE KIND

Die staat het die aanklagte teen Amutenya, wat daarvan aangekla word dat sy na bewering haar eie seun, Jenay (9), en dogter, Jane (3), in Desember 2020 vermoor het, voorlopig teruggetrek ná ’n bitter egskeidingstryd waarin hulle pa toesig gekry het.

’n Derde kind, Haufiku se seun uit ’n vorige verhouding, het die aanval oorleef.

Ná die moorde, is Amutenya, wat saam met haar destydse man in Ethiopië gewoon het, na Namibië gedeporteer en met haar aankoms in hegtenis geneem. Sy is vrygelaat nadat haar destydse prokureur, Kadhila Amoomo, die besluit om haar in Namibië aan te hou en te vervolg, bevraagteken het.

Die aanklagte teen haar is voorlopig teruggetrek, en Amutenya werk steeds by die ministerie van myne en energie.

Haufiku sê sy seun is in en uit die hospitaal, aangesien hy kopbeserings in die aanval opgedoen het.

“Ek moes hom na Suid-Afrika stuur vir ’n operasie om ‘n bloedklont te verwyder, maar nou kry hy aanvalle en sy onderwysers bel my gedurig dat hy aanvalle by die skool kry. My seun se lewe sal nooit dieselfde wees nie,” het hy gesê.

Haufiku het gesê beide hy en sy seun het berading ontvang om oor die verlies van Jenay en Jane te kom.

“My seun leef nie net met die beproewing om te gesien het hoe sy broer en suster vermoor is nie, maar hy leef nou met ’n toestand wat die gevolg is van die aanval. Sy kop is tydens die voorval teen die muur geslaan.”

Hy het gesê sy seun lewe in konstante vrees en sommige dae is beter as ander.

“Dit is ons nuwe norm. Maar selfs met al die lewensveranderinge is sy steeds agter my aan en wil sy geen rus vir my hê nie. As sy nie veg vir geld nie, wil sy my dood hê. Ek weet nie wanneer dit gaan stop nie. As die regering my in ’n ander land kan plaas, kan ek dalk oorbegin en weer ’n normale lewe hê. Om terug huis toe te kom is nie ’n opsie nie,” het Haufiku gesê.

Amutenya het geweier om kommentaar te lewer toe sy Vrydag by die hof genader is en gesê: “Nee, ek stel nie belang nie,” voordat sy haar motorvenster toegemaak het.

Mukaya Nyambe het haar verteenwoordig en landdros Nelao Ya France het die saak aangehoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!