Media-ombudsman hoor klagtes in openbaar aan

Ovambanderu-owerheid pak NBC
Mathias Haufiku
Hoewel ‘n algemene gevoel bestaan dat lakse toesigstelsels die media in staat stel om aanspreeklikheid vir hul werk vry te spring, sê die perswaghond mediahuise word nie “sagkens behandel” nie.

Dit volg nadat die media-ombudsman se kantoor aangekondig het klagtes teen mediahuise sal in die openbaar bereg word.

Dié kantoor maak vandag geskiedenis deur ‘n openbare verhoor te hou waarin die Ovambanderu Tradisionele Owerheid (OvTA) die land se grootste mediahuis – die nasionale uitsaaikorporasie (NBC) – sal aanvat.

Die NBC word daarvan beskuldig dat hy lede van die Ovambanderu-gemeenskap sensor en/of verbied om die titel Ombara Otjitambi te gebruik wanneer hulle na hul leier, me. Aletha Karikondua Nguvauva, op nasionale televisie en/of enige van sy radiostasies verwys. Die NBC word dus daarvan beskuldig dat hy nie die lede van hierdie gemeenskap se reg op selfidentifikasie gerespekteer het nie.

Die mediaklagtekomitee – onder voorsitterskap van die media-ombudsman, mnr. John Nakuta – sal die saak aanhoor.

Ander komiteelede sluit in me. Emilia Paulus en mnre. Gerald Johr, Manfred Naobeb en Nehemia Joseph.

RUIMTE VIR VERBETERING

Nakuta het gesê die “medialandskap doen goed, maar daar is ruimte vir verbetering”.

Sy rol as media-ombudsman is om te verseker lede van die publiek wat deur mediaberiggewing gegrief word, het ’n prosedure om te volg asook ‘n erkende beheerliggaam waar hulle klagtes kan lê.

Tydens ‘n onderhoud twee weke gelede met Namibia Media Holdings (NMH) se program Evening Review, het hy gesê algemene klagtes teen mediahuise sluit in onakkurate beriggewing en onvoldoende navorsing voordat stories gepubliseer word.

“Die mees algemene klagtes sluit in onakkurate beriggewing waar joernaliste slordig werk en nie genoeg navorsing doen nie; hulle wil net die storie daar buite hê,” het hy gesê.

Hy het ook gesê dit is hartseer dat sommige mediahuise nie die media-ombudsman se beslissings implementeer nie. Hy het egter geweier om die skuldiges te noem.

Maklike toegang tot sosiale media is volgens Nakuta ook problematies wanneer dit by nuusbronne kom.

“Jy kry joernaliste wat inligting direk vanaf mense se sosialemediaprofiele berig sonder om daardie inligting te verifieer of te bevestig dat die rekening wel aan die persoon behoort waaraan dit toegeskryf word. Met vals profiele wat aan die toeneem is, moet joernaliste meer waaksaam wees,” het hy gesê.

Die media-ombudsman het verder ‘n beroep op mediahuise gedoen om nie te berig oor sake wat hulself betrek, en wat nog bereg word, nie.

Hy meen ook mediahuise moet aandag gee aan hul beriggewingstyle wanneer hulle stories terugtrek.

“As iets reggestel moet word, sal jy sien dat mediahuise om verskoning vra, maar daardie verskoning sal nie dieselfde prominensie geniet as die aanvanklike storie wat gepubliseer is nie,” het hy uitgewys.

‘GEEN INMENGING VAN BUITE’

Die toename van vryskutjoernaliste in die mediaruimte bied ’n uitdaging vir Nakuta, veral omdat sy kantoor nie die mandaat het om klagtes waarby vryskutjoernaliste betrokke is, te ondersoek nie.

Die media-ombudsman is oor die jare daarvan beskuldig dat hy nie onafhanklik is nie, met sommige kritici wat sê die kantoor is bevooroordeeld teenoor mediahuise. Nakuta het dit ontken en gesê “die media-ombudsman is ten volle onafhanklik en nie verbonde aan enige mediahuis nie”.

“Ons het ons uitdagings soos finansiële beperkings wat ons verhinder om ons mandaat ten volle uit te voer, maar ek kan met trots sê in terme van onafhanklikheid, is daar geen eksterne inmenging nie.”

Seychelle het Namibië onlangs verbygesteek om die eerste plek as Afrika se vryste pers in te palm. Namibië lê nou tweede op die persvryheidsranglys.

Op ‘n meer positiewe noot het Namibië egter van die 24ste tot die 18de posisie op die wêreldranglys gestyg.

Die verhoor word vanaf 09:00 tot 13:00 by House of Democracy 70-72 Frans Indongorylaan in Windhoek gehou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!