Munisipaliteit se aanstelling draai in hof
Swakopmund
Die munisipaliteit se bestuurskomitee het glo nie die regte stappe tydens die aanstellingsproses gevolg nie.
Kristien Kruger
Die munisipaliteit van Swakopmund het die hoërhof in Windhoek genader oor die voormalige hoof van SME-besigheid by Nedbank Namibia wat glo onregmatig by dié munisipaliteit aangestel is.
Die munisipaliteit poog om ’n hofbevel te kry vir die hersiening en tersydestelling van die bestuurskomitee se besluit om mnr. Nelson Zambwe Simasiku as die munisipaliteit se bestuurder van korporatiewe dienste en mensekapitaal aan te stel.
Hulle versoek verder dat die besluit na die bestuurskomitee terug verwys word en ’n bevel wat verklaar dat die komitee geregtig is om die aanbeveling deur die onderhoudspaneel te oorweeg en herevalueer.
AGTERGROND
Die posisie vir bestuurder van korporatiewe dienste en mensekapitaal het op 30 Junie 2021 vakant geword.
Die pos is vanaf 3 tot 17 Desember 2021 in koerante geadverteer en drie kandidate is geïdentifiseer – me. S Eises, Simasiku en mnr. Mpasi Haingura.
Die kandidate het op 12 April 2022 onderhoude voor ’n paneel gehad en die paneel het die kandidate in volgorde van voorkeur gerangskik en hul terugvoering aan die bestuurskomitee deurgegee.
Haingura het die hoogste telling behaal met 70%. Daarna was dit Simasiku met 67% en Eises met 60%.
Die bestuurskomitee het op 19 April 2022 vir Simasiku in die pos aangestel.
ONREGMATIG AANGESTEL
Volgens die uitvoerende beampte van die munisipaliteit, mnr. Alfeus Benjamin, was die bestuurskomitee se optrede teenstrydig met regulasie 27 wat vereis dat die aanstelling die voorkeurvolgorde moet volg soos aanbeveel deur die onderhoudspaneel.
Die bestuurskomitee was dus verplig om Haingura aan te stel.
Volgens regulasie 27(8) sou die alternatief wees om die departement van menslike hulpbronne te versoek om die werwingsproses opnuut te begin of, met skriftelike rede, dit terug te verwys na die onderhoudspaneel om die kandidate weer te ondervra of sy aanbeveling te heroorweeg.
“Die bestuurskomitee het opgetree onder die verkeerde indruk dat die lede die gesag gehad het om die tweede respondent [Simasiku] te kies ongeag die aanbeveling deur die onderhoudspaneel,” lui Benjamin se verklaring.
Die munisipaliteit het aan partye voorgestel dat die proses oorgedoen word.
Simasiku was glo van mening dat die komitee bevind het hy is die gepaste kandidaat en hy kan nie insien waarom die proses oorgedoen moet word nie.
Haingura het daarmee saamgestem, maar dat hy in die pos aangestel moet word omdat hy die hoogste telling behaal het.
INGELIGTE BESLUIT
Simasiku het in sy verklaring aangedui hy staan die munisipaliteit se saak teen.
Volgens sy verklaring wat hy op 30 Augustus ingedien het, is hy op 26 April in kennis gestel hy het die werk gekry en is twee dae later via e-pos ingelig dat die aanstellingsproses hersien word.
“Ek glo die bestuurskomitee het al die inligting gehad wat nodig was om ‘n ingeligte besluit te neem en hulle het nie ‘n fout gemaak nie. Die opsomming van evaluering en aanbevelings is aan die komitee voorgelê. Die bestuurskomitee het die aanbevelings geëvalueer en besluit om my aan te stel.”
Simasiku beweer indien sy aanstelling tersyde gestel word, kom dit in wese neer op onbillike ontslag ingevolge die Arbeidswet 11 van 2007.
Regter Collins Parker het gister die saak tot 28 September uitgestel vir verdere voorverhoorverrigtinge.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie