Namibië dalk dié nuwe sitrus-gebied
Buiteland stel ook belang
Terwyl groot beloftes vir 'n Namibiese sitrusbedryf belangstelling so ver as in Suid-Afrika ontlok het, organiseer plaaslike sitrusboere hulself om eienaarskap van die geleentheid te neem.
Elvira Hattingh
“Ná dertig jaar glo ek ons het die potensiaal om dié nuwe sitrusproduserende gebied in die wêreld te raak, omdat ons die klimaat en al die regte toestande het. Oor tien jaar van nou kan Namibië 10 000 hektaar se sitrusboorde hê, wat jaarliks 600 000 ton se vrugte produseer met ’n waarde van sowat N$6 miljard per jaar.”
Só sê mnr. André Neethling, tydelike voorsitter van die nuutgestigte Sitrusvereniging van Namibië. Hy het die afgelope Saterdag bywoners van die Gloriosa-dag op Grootfontein toegespreek, wat by me. Salomé Luckhoff se kwekery aangebied is.
“Die aanvraag na ons produk is reeds daar; ons moet dit net opvolg,” het hy gesê.
“Boonop raak ons sitrusvrugte ryp drie weke vóór enige vrugte in Suid-Afrika, wat ons ’n unieke geleentheid in wêreldmarkte kan bied. As jy geld wil belê, belê dit nou in ’n sitrusboord,” het hy gesê.
Hy meen dat daar oor tien jaar sowat 15 sitruspakhuise in die gebied tussen Outjo, Otjiwarongo, Tsumeb en Grootfontein gevestig kan wees – en ook dalk so ver as Stampriet.
“Op die oomblik werk ek self ook aan groot skemas om ’n sekere hoeveelheid hektare sitrusboorde te plant, om ’n pakhuis te regverdig. Jy het ’n pakhuis nodig wat die vrugte sal voorberei vir uitvoermarkte, sortering en verkope,” het hy gesê.
“Nie almal van ons sal dalk ’n groot skema kan begin nie, maar sitrus bied vir almal ’n geleentheid.”
Neethling maan Namibiërs om wakker te wees omdat die geleentheid ook groot belangstelling onder sitrusboere in die buiteland ontlok.
WEES GEREED
Neethling sê talle Suid-Afrikaanse sitrusboere het ’n oog op Namibië en om sitrusboerderye plaaslik te kom vestig.
“Namibië lê nog oop en onbenut. Namibië se klimaat is beter, want ons het meer sonligeenhede. Die markte beweeg al hoe meer hierheen.”
Die voordeel hiervan is dat die sitrusboere ’n groot klomp kundigheid van so lank as 150 jaar met hulle saambring – wat hulle ook gewillig met Namibiërs sal deel, maar dat Namibiese boere hulself hiervoor moet voorberei.
Neethling sê die dryfkrag agter die Suid-Afrikaanse boere is uitdagings soos heelwat minder politieke stabiliteit en sitrussiektes in die buurland, terwyl baie van hul eie boorde al verouder het en die beheer oor hul uitvoere verval het.
“Voor dié boere boorde gaan plant, wil hulle weet daar is vrede, sekuriteit en hulle boer in ’n omgewing waar daar nie siektes is nie.
“Ons moet net wakker wees. Kom óns lê die reëls neer en kry die voordeel uit hierdie hele beweging,” sê hy.
“Ons het ’n fantastiese klimaat vir sitrusboerderye. Ons sit hier in die Karstveld, wat ’n oerbron van water is. Kom ons benut dit, want as ons dit nie doen nie, wil ander dit hê,” het hy gesê.
Dis ook om dié rede dat plaaslike sitrusboere besluit het om ’n vereniging op die been te bring.
“Dit is sodat ons as Namibiërs vir ons ons eie plek kan toeëien, maar ook as ’n groep kan koördineer en ons saak kan beding,” het hy gesê.
DIE SOMME
Neethling sê ’n sitrusboord van 1 ha met sowat 500 boompies kan ’n jaarlike opbrengs van tussen N$400 000 en N$1 miljoen bied, terwyl dit sowat N$150 000 kos om dit aanvanklik te vestig.
Hy sê ’n sitrusboom neem sowat 5 jaar voor dit volwasse is en vrugte produseer, terwyl ’n boord van 1 ha se instandhoudingskoste ook sowat N$100 000 per jaar beloop. Die koste kan gedek word deur waatlemoene, spanspek en pampoene tussen die jong sitrusboom-rye te plant, terwyl dit nog nie in produksie is nie.
Neethling sê as almal sitrusvrugte plant, sal daar eindelik ’n punt bereik word waar die plaaslike mark versadig word en dan moet daar op uitvoere gefokus word. “As jy plant, moet jy dus van die begin af die regte soort plant en dit korrek versorg,” het hy gesê.
Daar bestaan ’n sterk aanvraag in markte vir die pomelo Star Ruby en die Valencia-lemoen, terwyl Namibiërs reeds markte in die Ooste en Midde-Ooste het.
Hy sê ‘n stirusboord kan 50 jaar oud word, terwyl elke hektaar sowat 14 000 m³ se water per jaar vereis.
GESKIEDENIS
Namibië produseer tans slegs sowat 7% van die sitrus wat dit self verbruik, terwyl 93% hoofsaaklik vanuit Suid-Afrika ingevoer word.
Boorde wat soveel as 120 jaar gelede in byvoorbeeld die Hochveld-gebied gevestig is, het in onbruik verval weens faktore soos die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Depressie, toe die Tweede Wêreldoorlog en die land se Onafhanklikheidstryd, wat te veel onsekerheid geskep het.
Namibië het sowat 120 jaar gelede sitrus gekweek vir uitvoer na Duitsland en eie gebruik. Hy meen 32 jaar ná Onafhanklikheid, geniet die land egter genoeg politieke stabiliteit en vrede.
Neethling raai belangstellende boere aan om op Youtube na CRI Citrus (Citrus Research International) te soek, waar jy alles kan sien oor die versorging en aanplant van sitrus, tot hoe om vir die uitvoermark voor te berei.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie